General

Moord was toe selfmoord

Daar is tydens ‘n geregtelike ondersoek bevind dat Melanie Coetzee (foto) se man, Francois, selfmoord gepleeg het in November 2007. Sy is aanvanklik van moord aangekla.
Daar is tydens ‘n geregtelike ondersoek bevind dat Melanie Coetzee (foto) se man, Francois, selfmoord gepleeg het in November 2007. Sy is aanvanklik van moord aangekla.

Hennie Pauw

THABAZIMBI – In ‘n geregtelike ondersoek op 11 en 12 Junie 2009 in die Landdroshof van Thabazimbi na die dood van Francois Coetzee wat gesterf het as gevolg van koeëlwond in November 2007, het hooflanddros Torlage bevind dat hy selfmoord gepleeg het.
Francois se vrou Melanie, destyds verbonde aan die Thabazimbi polisiestasie, is kort na die voorval van moord aangekla, maar die saak is teruggetrek in Augustus 2008. Die hof het in Augustus beslis dat daar onvoldoende forensiese bewyse was dat Melanie by haar man se dood betrokke was.
By die geregtelike ondersoek vandeesmaand is bepaal dat Francois, wat aan depressie gely het en ‘n geskiedenis gehad het van alkoholmisbruik, selfmoord gepleeg het.
Getuienis is gelewer deur forensiese deskundiges dat die koeël die liggaam aan die regterslaap van naby binnegegaan het en links verlaat het, waar dit in die kosyn vasgeslaan het. Geweerresidu is aan die oorledene se regterhand gevind.
Daar is getuig dat die beskuldigde nie haar hande gewas het, soos voorheen beweer is nie, maar dat ‘n kollega haar gehelp het om bloed van haar hande te verwyder, slegs met water.
Getuienis is ook gelewer dat daar aan die ondersoekbeampte, en waarskynlik die stasiebevelvoerder, reeds binne 24 uur na die ongeluk meegedeel is dat geen forensiese getuienis ‘n moordklag ondersteun nie. Ten spyte hiervan is Melanie eers nege dae later op borgtog vrygelaat en is die moordklag nie onmiddellik teruggetrek nie.
Melanie, wat nie terug is werk toe ná die voorval nie, is sowat twee maande later sonder salaris en ander voordele (medies en pensioen) geskors en is in April 2008 afgedank tydens ‘n departementele verhoor. Sy het geappèlleer, maar dit is van die hand gewys, sonder dat sy kans gehad het om te getuig by die appèlsaak.
Volgens Melanie is dit vir haar baie belangrik dat die uitspraak van die hof so wyd as moontlik bekend gemaak word sodat haar naam in ere herstel kan word en sodat sy met haar lewe kan aangaan.
As gevolg van die trauma van die aanklag en geregtelike implikasies daarvan en die finansiële druk wat sy ondervind het, het sy nooit regtig kans gekry om oor die verlies van ‘n eggenoot te rou nie. Hopelik help die afhandeling van die verskillende aspekte van die proses, dat sy weer haar lewe terug op spoor kan kry.
SAPU, oftewel die Suid-Afrikaanse Polisie Unie, was baie ondersteunend en daar is tans ‘n arbitrasie saak in ‘n poging om Melanie in haar pos herstel te kry, asook dat sy vergoed word vir die verlies aan inkomste, mediese en pensioenvoordele.