General

Agri SA verwerp Minister van Waterwese en Omgewingsake se beskuldigings

Agri SA president, Johannes Möller het skerp gereageer op minister Buyelwa Sonjica se beskuldiging dat waterhulpbronne onder druk is as gevolg daarvan dat besproeiingsboere volgens haar in verskeie gevalle water onwettig gebruik. Möller het gesê dat die departement sedert 1999 nog nie daarin geslaag het om bestaande watergebruik te verifieer en te bevestig nie, ondanks hulp wat Agri SA in die verband aangebied het.  “Die minister behoort haar eers van die feite te vergewis alvorens beskuldigings na een sektor van die ekonomie geslinger word”
Die minister se aanduiding dat sy met boere oor die aangeleentheid wil raadpleeg skop vanweë hierdie aantygings nie op ‘n goeie voet af nie, het Möller bygevoeg.
Agri SA vind ook die minister se bewering van vyandige verhoudings tussen boere en haar amptenary vreemd.  “Agri SA het ‘n Plaasprotokol vir Toegang tot Plase met die regering onderhandel en dit sal goed wees as die minister haar daarvan vergewis.  In die verlede het Agri SA se affiliasies bewys dat toegang tot plase op ‘n verantwoordelike wyse nie ‘n probleem is nie, daarvan kan onder andere Statistiek SA met hulle opnames getuig.  Dit is egter so dat met inagneming van die veiligheidsituasie, boere nie sommer meer mense op plase sal toelaat nie,” aldus Möller”.
Die feit dat die besproeiingslandbou 62 persent van die beskikbare water gebruik dui verseker nie op ‘n oortreding van enige aard nie, terwyl dit ook nie enige stremming plaas op die beskikbaarstelling van water aan enige ander sektor van die ekonomie nie.  Vir solank die water wel vir besproeiing aangewend word dra dit by tot ekonomiese welvaart en spesifiek werkskepping en voedselsekerheid waarop die regering ‘n premie op plaas. “Die landbousektor weier gewoon om hiervoor in die beskuldigdebank geplaas te word” sê Möller.
Vir ooglopende redes wil die landbousektor watervermorsing tot die minimum beperk en maak tewens reeds in watertariewe ‘n finansiële bydrae tot waardevermindering van besproeiingsinfrastruktuur. Hierdie fondse behoort juis aangewend te word om die verouderde infrastruktuur waarna die minister verwys op te gradeer, volgens Möller.
Agri SA het reeds die minister versoek vir samesprekings om verbandhoudende probleme met die departement te bespreek wat sedert 2007 onafgehandel is, onder andere die beperking van die oordrag van watergebruiksregte en die gevolglike nadelige uitwerking op voedselsekerheid, werkskepping en die ekonomiese gebruik van ‘n skaars hulpbron soos water.  “Van hierdie aangeleenthede spruit juis voort uit boere se benutting van verbeterde tegnologie, ‘n aspek waaraan die minister groter erkenning behoort te gee.”
Möller doen ‘n beroep op minister Sonjica om daadwerklik oplossings te soek vir die departement se onvermoë om die Nasionale Waterwet te implementeer.  “Daarvoor is Agri SA beskikbaar om ‘n konstruktiewe bydrae te lewer”.