Parkeerarea aanvalle gemik op kwesbare vroue

THABAZIMBI – ‘n Bekommerde inwoner van Thabazimbi het Die Kwêvoël vandeesweek gekontak na ‘n mislukte kapingsvoorval op haar voertuig in ‘n bekende winkelsentrum se parkeerarea.
Die dame het met skemertyd nadat sy haar pakkies in die voertuig gelaai het, ‘n oproep op haar selfoon beantwoord. Sy het agter die stuurwiel ingeskuif en al die deure gesluit. Na ‘n paar minute onderwyl sy steeds op die selfoon gepraat het, het sy vreemde geluide gehoor, opgekyk en in ‘n man wat met sy rug teen die voorste passasiersdeur staan, gewaar. Hy het die handvatsel van die deur geruk en gepluk om die deur te probeer oopmaak. Toe hy besef die deur is gesluit het hy oor sy skouer na die dame gekyk. Hy het dit gelos en eenvoudig nonchalant weggestap. Volgens die dame was daar iets swarts in sy hand wat hy baie vinning in ‘n sysak laat val het. Indien die voertuig se deure nie gesluit was nie, sou hy dit dalk as wapen teen haar kon gebruik, vanweë die bepaalde winkelsentrum se sekuriteitsbeamptes het die aanvaller dit nie gebruik om ‘n venster te breek nie, aangesien dit aandag sou trek en hierdie mense probeer juis onopsigtelik te werk gaan. Die publiek, en veral dames word gemaan om paraat te wees wanneer hul terugstap na hul voertuig. Hou die voertuigsleutels byderhand en moet liefs nie die selfoon beantwoord wanneer pakkies ingelaai word nie, dit trek straks verkeerde aandag. Maak gebruik van die sentrum se sekuriteitsbeamptes en personeel om pakkies te laai, sluit die voertuig se deure en wees op die uitkyk vir verdagte persone.
Volgens SAP word vrouens en veral senior burgers as ‘n sagte teiken beskou, en sulke toevalle is ongelukkig, glad nie meer skaars in die omgewing nie, maar is stadig maar seker besig om toe te neem. Leer dus om jouself te beveilig, veral deur gedrag, dit red dalk net jou lewe.