Thabazimbi se wateruitdaging
Hennie Pauw
THABAZIMBI – In ‘n voorlegging deur Okkie van den Berg, ingenieur by Departement Waterwese oor watervoorsiening vir ontwikkelings in Lephalale se kragstasies en gevolglike industrieë, wat meer aandag geniet as die voorsiening in Thabazimbi se waterbehoeftes. Thabazimbi se waterbehoeftes sal binne die volgende vyf jaar dringend aangespreek moet word aangesien die huidige beplanning is dat Lephalale se waterbehoeftes vanaf Thabazimbi afhanklik gaan wees. Wat wel duidelik geblyk het was dat baie gedoen moet word plaaslik om water beter te bestuur en bewaar en dat ‘n aksieplan geneem moet word oor die toekomstige waterbehoeftes van die dorp. Dit blyk dat daar verskeie moontlikhede is soos ‘n aansluiting by die infrastruktuur wat beplan word vir Lephalale, óf vir ‘n groter konsessie van Magalies Water óf die ontginning van ‘n nuwe bron.
Al hierdie moontlikhede het egter groot finansiële implikasies vir die munisipaliteit en die taak sou nou wees om te bepaal watter een die beste waarde vir geld sou lewer. Sommige van hierdie projekte het ‘n groter kapitale uitleg as andere, maar die bestuurskoste is dan dikwels laer en andersom. Dit is egter duidelik dat die groot beperking die finansiering van hierdie projekte sal wees.
Okkie van den Berg het aan die groep mense teenwoordig by die APF (Area Planning Forum), saamgeroep deur Tegniese Dienste by die Thabazimbi Munisipaliteit, verduidelik wat beplan word om water te voorsien aan Lephalale, die beplande kragstasies en moontlik ‘n Sasol-aanleg. Daar word, onder andere, beoog om ekstra pypleidings vanaf Mokolodam aan te lê na Lephalale en om ‘n keerwal in die Krokodilrivier by Vlieëpoort te bou en die water met ‘n pyplyn na Steenbokpan te vervoer waar groot ontwikkelings te wagte is.
Daar moet onder andere voorsiening gemaak word vir die vertiendubbeling van huishoudelike behoeftes, ekstra water wat benodig word om skadelike gasuitlate van steenkoolkragsentrales te beheer, afgesien van die waterbehoefte vir die kragsentrales self, verwante myne en ‘n moontlike Sasol-aanleg. Hierdie behoefte sal teen 2030 sowat 200 miljoen kubieke meter water per jaar beloop.
Dit het duidelik geblyk dat die eindgebruiker van water hetsy dit Ellisras of Thabazimbi is, nie in isolasie kan optree nie en dat dit ‘n streeksaangeleentheid is en dat verskillende munisipaliteite sal moet saamwerk vir die beste resultate vir almal.
Hoewel Thabazimbi logieserwys deel kan word van die watervoorsieningskema vir Ellisras, veral aangesien die keerwal naby Thabazimbi opgerig word, hou dit definitiewe finansiële implikasies vir plaaslike verbruikers in.
Die regering befonds nie sulke projekte nie, maar wel die eindgebruikers, wat sou beteken dat Thabazimbi se watergebruikers waarskynlik sou moes help betaal aan ‘n pyplyn Steenbokpan toe, hoewel die dorp maar een van die mees suidelike gebruikers daarvan sou wees.
Die tweede moontlikheid is die bou van nog ‘n keerwal voor die beplande Vlieëpoort keerwal, wat goedgekeur sal moet word deur waterowerhede, en wat die bou van watersuiweringswerke, geensins ‘n goedkoop aanleg nie, sal insluit.
Die water in Krokodilrivier sal aangevul word deur ekstra water wat van die Lesotho Hoogland-skema aan Gauteng verskaf sal word en waarvan die afloop in die Krokodilrivier sal eindig. Hierdie water is geensins skoon nie, en sal dus eers behandel moet word.
‘n Derde moontlikheid is die verhoging van kapasiteit van Magalies Water wat tans die dorp voorsien, maar ook hiervoor moet addisionele infrastruktuur geskep word, onder andere die vergroting van die laaste 20km pyplyn wat tans teen kapasiteit benut word.
‘n Vierde moontlikheid is die boor en ontginning van boorgate in Thabazimbi se onmiddellike omgewing, maar die waterkwaliteit sal moet aangespreek word, asook die volhoubaarheid van so ‘n skema.
‘n Vyfde oplossing is die ontginning van die Zandrivierwaterbron.