Rhinos gee Union pakslae
Jan Engelbrecht
SETARIA – Die Rhinos het aan die bopunt van die eerste deel van die liga geëindig nadat hulle Union se twee spanne Vrydagaand geklop het. Van hierdie Vrydag af speel die boonste vier spanne in ‘n rondomtalie reeks teenmekaar. Mogol speel op Northam plats se tuisveld en Thaba speel op Union se tuisveld.
Die Rhinos het Vrydagaand vir Union in ‘n wedstryd wat met tye hard was redelik maklik gewen met 27- 8. Die wedstryd was gekenmerk deur swak hanteerwerk aan Northam se kant. Ook maar goed anders kon die telling baie sleg gelyk het vir Union.
In die eerste helfte het Union vir ‘n lang tyd kamp opgeslaan in Northam se helfte wat darem gemaak het dat hulle ‘n strafskop ryker geword het. Dit het met tye gelyk of Northam net genoeg doen om die wedstryd te wen en liewer hulle energie wil spaar vir iets anders.
Daniel Fourie het ‘n baie stewige wedstryd agter die skrum gehad en is beloon met twee goeie drieë. Mark Humphries was aan die voorpunt van die aanvalle en die rooikop flank is ‘n baie goeie speler wat die spelers om hom met sy vuur beïnvloed.
Puntemakers aan Northam se kant met drieë was JP Jacobs, Wheelen Fortuin met ‘n drie elk en Danie Fourie met twee. Bennie Stander slaag met ‘n doelskop en JP slaag met een doelskop en ‘n strafskop.
Northam se tweede span was aan die brand en behaal ‘n weghol oorwinning van 50-0.
Die manne het goed voor en agter gespeel en die bal lekker rondgegooi en hulle bly ‘n gevaarlike span as hulle aan die hardloop gaan.
Daar was baie uitblinkers maar Pollie Lindenberg se naam moet heel eerste genoem word. Kort op sy hakke was Gerhard Coetzee wat lekker pale toe skop en sy agterlyn uitstekend weg stuur.
Die puntemakers met drieë was Jerome Moddel, Gertjie Potgieter met twee, JP Marx, Gerhard Coetzee, Bennedict Bosman en Cristiaan van der Berg ook met twee. Gerhard slaag ook met vyf doelskoppe.