Kinderbeskermingsweek bereik baie kinders en volwassenes
Hennie Pauw
THABAZIMBI – Altesaam sowat 5 000 plaaslike kinders by 3 hoërskole, 13 laerskole en 11 kleuterskole is bereik met projekte wat geloods is tydens Kinderbeskermingsweek van 1 – 6 Junie vanjaar.
Die twee hoofprojekte waardeur die kinders bereik was, was praatjies deur speur-kapt Colin Morris van die Randburgse Kinderbeskermingseenheid en die aanbieding van ‘n poppekas by skole en kleuterskole in die Thabazimbi-omgewing.
Morris, ‘n polisiereservis van Randburg, het tydens ‘n onderhoud op Thaba Stereo, veral gemik op die ouers, en praatjies by skole, die gevare van kletskamers op die internet en selfone met die tieners bespreek.
Tydens die poppekas is die storie vertel van Otjie Potjie wat ‘n geleentheid saam met ‘n vreemde persoon in ‘n motor wou neem mark toe, maar toe afgeraai is deur Hasie Kalbassie en Bennie Beer. Die boodskap van die poppekas het ‘n verskeidenheid onderwerpe gedek: moenie saam met vreemde mense in motors klim of lekkergoed van hulle neem nie, moenie slegte geheime hou nie (daar is onderskeid getref tussen goeie en slegte geheime), woedehantering en die hantering van boelies.
Chrisan van Buuren, maatskaplike werker verbonde aan Amandelbult-myn, het die teks geskryf vir die poppekas en dit ook in Tswana vertaal. Die Engelse vertaling is deur Dave Victor van TCS (Thabazimbi Christian School) gedoen.
Die drie stappe wat gevolg word indien iemand ‘n kind sou dwing om in ‘n voertuig te klim of vat aan ‘n verkeerde plek is prakties gedemonstreer. Eerstens moet die kind “nee!, nee!, nee!” skree, dan weghardloop en dan vir iemand vertel.
Daar is ook tydens die Kinderbeskermingsweek, warm klere en nie bederfbare kos geskenk en muntleggings gedoen deur leerders by sommige skole terwyl sopkombuise weer by ander skole aangebied is.
Die onderwysers by laerskool het inligtingstukke van die polisie en SAVF ontvang. Dit het, onder andere, gehandel oor die simptome en erkenning van simptome van verskillende soorte mishandeling (emosioneel en seksueel) in kinders en die hantering van onthullings, sou onderwysers deur sulke kinders in hul vertroue geneem word.
Die Kinderbeskermingsweekprojekte is deur ‘n dinamiese span, wat saamgeroep is deur die SAVF, gereël. Hulle sluit in Legae la Bona (Makoppa-groep betrokke by die plaaswerker-gemeenskap), Orphans & Vulnerable Children (Regorogile), Tshepong Children’s Project (nasorg- en gemeenskapsentrum in Koedoeskop), SAVF, Platinum Health, SAPD en plaaslike Kinderbeskermingseenheid (KBE), KBE Randburg, plaaslike media en private persone.
Twee CD’s, een vir ouers en een vir tieners, oor die kletskamerpraatjie van speur-kapt Morris is teen R20 elk beskikbaar by Thaba Stereo. Daar is ook ‘n DVD van die poppekas-opvoering beskikbaar by Christelle Barnard (SAVF) 084 218 1820 teen R50 stuk, asook ‘n CD met foto’s wat die Kinderbeskermingsweek se projekte volledig dek teen R30 elk.