Kansa-Sanlam Gholfdag
AMANDELBULT – Die pas-afgelope Kansa-Sanlam Gholfdag op Amandelbult het 64 inskrywings gelok en R27 000 ingesamel vir KANSA.
Die dag het baie gesellig verloop met die hulp van verskeie borge, kontant en pryse wat gewen is, wild wat opgeveil is, shooters wat gedrink is, hampers, nat gate, ontbyt platters, braaipakke en lekker musiek.
Dié gholfdag by Amandelbult was een van vier plaaslike gholfdae wat gehou word ten bate van KANSA en gereël word deur Sanlam en plaaslike gholfklubs. Rooiberg en Amandelbult se gholfdae is agter die rug en eerskomende Saterdag, 13 Junie, vind die derde plaas op Thabazimbi Gholfbaan en op 27 Junie bied Swartklip die laaste van die vier KANSA gholfdae aan.
Die wenners van Saterdag se kompetisie was Carl Payne (A), Jacques van Eyssen (B) en Scott Denton (C). Die dameswenner was Martie Clark.
Hierdie wenners, saam met die wenners van die ander klubkompetisies kwalifiseer vir ‘n streekfinale in Augustus en die streekwenners kwalifiseer vir ‘n landswye kompetisie by San Lameer Country Club aan die KwaZulu-Natalse suidkus. Groot pryse is beskikbaar vir die wenner van die finale kompetisie.
Die mans- en vrouewenners van elk van die klubkompetisies kan ‘n duffelsak (eerste plek), steak-mes-en-vurkstel (tweede plek) en dubbelwynsak (derde plek) wen. Daar is ook ‘n lootjiewenner wat ‘n strandstoel kan wen en TaylorMade gholfballe vir die afslaanhou wat die naaste aan die vlag land.
Die formaat van die kompetisie is Individuele Stableford. Die inskrywingsfooie vir Saterdag se gholfkompetisie by Thabazimbi is R200 per speler en die eerste afslaan is om 11:00. Besprekings kan gedoen word by die gholfklub.
Linda Prinsloo en haar span van Sanlam het haar dank uitgespreek teenoor almal wat die dag by Amandelbult ‘n sukses help maak het en hul harte en hande oopgemaak het vir KANSA, asook die borge en die bestuur van Amandelbult Gholfklub wat ‘n bydrae gemaak het.