General

Bespaar en bestuur eers huidige watervoorraad

Hennie Pauw

THABAZIMBI – Die huidige swak beheer en bestuur oor Thabazimbi se waterbronne en –allokasies staan in die pad van langtermynbeplanning oor hoe Thabazimbi se waterbehoeftes van die toekoms aangespreek moet word.

Volgens KWCRS (Khuvutlu Water, Consulting, Roads & Services) van Polokwane, wat ‘n voorlegging gedoen het tydens ‘n APF(Area Planning Forum)-vergadering by die Thabazimbi Munisipaliteit op 21 Mei, is daar heelwat wat gedoen kan word om beter beheer uit te oefen oor Thabazimbi se watervoorraaad en dus groter besparings in die hand te werk.

Eers as besparings- en beheermaatreëls behoorlik in plek gestel is en werk kan die werklike behoefte van Thabazimbi bepaal word. Eers hierna kan ‘n betekenisvolle besluit geneem word oor waar en hoe Thabazimbi se toekomstige waterbehoeftes aangespreek moet word en watter langtermynopsie die grootste voordeel vir Thabazimbiërs inhou.

Volgens KWCRS gaan Thabazimbi se huidige waterbehoefte vir die hele munisipale distrik styg van ongeveer 17 megaliter per dag na 27 megaliter per dag teen 2012.

Twee van die groot projekte wat waterbesparing vir Thabazimbi sal meebring, is die pypverleggings by die reservoir en die verbetering van die waterkwaliteit uit boorgate. Beide hierdie projekte, veral eersgenoemde, is baie duur.

Die verskuiwing van watervoorsieningspype na die reservoir, wat tans 8m onder die grond lê en onder strukture van Kumba-myn geleë is moet so gou moontlik aangepak word. Die pyp waarlangs water na die reservoir vervoer word moet ook verskuif word sodat die inlaat van bo in plaas van onder plaasvind. Tans, wanneer probleme ondervind aan inlaatpype, gaan al die water in die reservoir verlore as gevolg van sy posisie.

Nog een van die waterbestuursaksies wat voorgestel word, is die verbetering van waterkwaliteit van boorgate afkomstig, sodat die hoë yster- en mangaangehalte van die water verlaag word. Die hoë voorkoms van metale in die water verhoog die mate van korrosie van die pype en ander infrastruktuur.

Die uitvoering van sommige van hierdie planne is reeds sedert verlede jaar “in die pyplyn” en sou reeds voor einde Desember 2008, toe die dorp swaar gebuk gegaan het onder gereelde wateronderbrekings en vuil water, aangespreek word. Op daardie stadium is daar op nasionale televisie berig oor die waterprobleme wat Thabazimbi ondervind.

By die onlangse APF-vergadering is verwys na die Munisipaliteit se swak bestuur ten opsigte van ou infrastruktuur wat nie vervang word nie, die nie-nakoming van behoorlike roetine-onderhoudwerk, slegte herstelwerk, die afwesigheid van ‘n lekopsporingstelsel.‘n Redelike eenvoudige apparaat om te installeer en sy onvermoë om die bestaan van onwettige konneksies en slegte skulde aan te spreek. Slegs sowat 70% van water wat tans in die Thabazimbi-distrik verbruik word, word voor betaal, die orige 30% is finansiële verliese, het Livhuwani Muditambi van KWCRS gesê.

Daar is ook verwys na verkeerde en ongeleesde meters, die slegte invordering van skulde en die feit dat die Thabazimbi Munisipaliteit nie kan bekostig om maandeliks verniet water aan alle huishoudings te voorsien nie.

Volgens Muditambi het die dorpsleiers ook ‘n belangrike rol om te speel in die ontwikkeling en implementering van ‘n waterbesparing en –bewaringsprogram. Inwoners moet bewus gemaak word van die belang van waterbesparing en ‘n gesindheid van omsigtige waterverbruik moet gekweek word.