Entertainment

Aardklop se “Bure oppie bank” by die KunsteGrot

Bure Oppie Bank. Vlnr  Zane Meas en  Neels van Jaarsveld besoek die KunsteGrot Saterdag 29 Augustus.
Bure Oppie Bank. Vlnr Zane Meas en Neels van Jaarsveld besoek die KunsteGrot Saterdag 29 Augustus.

THABAZIMBI – Die twak spat wanneer Toks en Flip mekaar beetkry en stry oor rugby, vroumense, skoonma’s en ‘n stukkende kar wat die een aan die ander verkoop het.

Die 7de Laan akteur Zane Meas (koerantredakteur Neville) en Binnelanders se veelsydige Neels van Jaarsveld (Dr Gideon) is die twee Bure oppie Bank wat mekaar so aanvat in hierdie splinternuwe komedie geskryf deur Saartjie Botha met regie deur die bekroonde regisseur Ilse van Hemert. Hierdie stryd kan die Thabazimbiërs geniet op 29 Augustus 2009 wanneer hulle ‘n draai by die KunsteGrot in Thabazimbi kom maak.

Flip Botha (Van Jaarsveld) en Toks Abrams (Meas) het voortdurende sonde met die bure,  en dis wat Flippie na Toks se TV-kamer dryf en daar beland hulle saam op Toks se rusbank voor die televisie waar hulle oor alles van sport tot gereedskap en vroue stry.  Hulle sit nie langs dieselfde vuur nie, want Toks is ‘n Blou Bul en Flip ‘n Stormer. Boonop weet Toks alles van alles, maar Flip vreet niks vir soetkoek op nie, behalwe wanneer dit kom by Toks se raad oor hoe Flip sy aanstaande verloofde moet benader. Voeg daarby ‘n waterdigte plan oor hoe om jou kar te laat steel en die lagspiere werk oortyd.

Bure oppie Bank het gehore laat skater en byna al die vertonings by Aardklop was uitverkoop. Die speelvak by die Centurion-teater was ewe suksesvol met mense wat diep uit hulle mae gelag het vir die twee bure se wel en weë.

Kaartjies kos R120 en kan daagliks tussen 14:00 en 22:00 bespreek word by Rita Volschenk by 083 7448559