General

Sal jy kom speel as die onderwêreld jou naam roep

In 2005 het Fanie Viljoen tieners en hul ouers laat regop sit met sy bekroonde jeugroman, BrenBliksem. Dit was selfs met groot sukses verwerk vir die verhoog deur Hennie van Greunen. Fanie se nuwe jeugroman Onderwêreld is nou beskikbaar en dit gaan lesers nog meer laat naels kou. Hierdie boek waag dit in die donker onderwêreld van kuberkrakers(hackers). Viljoen het uit vorige navorsing gedoen vir die boek en is selfs bygestaan deur ‘n aantal hackers.

Greg Owen is die hoofseun van ‘n privaat seunsskool wanneer Eckardt Wilken, ‘n buitestaander, in matriek by hulle aansluit. Reeds met die inisiasie van nuwelinge vorm ‘n band tussen die twee seuns. Eckardt erken dat hy ‘n voortreflike rekenaar-hacker is en lei Greg in die geheime van die onderwêreld in wat hom, onwillekeurig, in ‘n gevaarlike avontuur intrek. Met Eckardt se skielike geheimsinnige verwyning begin Greg alles wat hy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, bevraagteken.

Die onderwêreld ken sy naam en roep hom om te kom speel.

Internettoegang is nog relatief duur in Suid-Afrika, maar dit gaan alles oor verander in Junie vanjaar wanneer die nuwe Seacom-kabel ons gaan verbind met internasionale breëbandnetwerke in Frankryk en Indië. Suid-Afrikaanse Internetgebruikers gaan dan 24 uur per dag aanlyn wees omdat dit so goedkoop sal wees. Die kans dat ons meer deur hackers geteister sal word, vergroot dus ook. Wil jy weet wat hackers aan jou kan doen? Doen jy enigsins banksake op die Internet, of het jy al net jou bankrekeningnommer vir iemand per e-pos aangestuur? Jou hare sal rys as jy sien hoe jy jouself blootstel aan hackers en hul sluwe streke.

In Onderwêreld stel die skrywer die leser sommer ook op ‘n leersame wyse bekend aan hacking terme soos white hats en black hats, social engineering, shoulder surfing, brute force attacks, dumpster diving en meer.

Onderwêreld het die Silwer Sanlam-prys vir jeuglektuur 2007 ontvang en is tans ook op die kortlys vir die M.E.R.-prys vir jeuglektuur. Die goed geskrewe en gekonseptualiseerde storielyn, maak vir spannende leesstof.

ISBN: 9780624046691  Besoek: www.fanieviljoen.co.za