General

Pieter se plek nou leeg…

Pieter Jooste het sowat ‘n maand gelede ‘n rit onderneem in die helikopter van Lourens du Plessis (regs). Pieter is Sondag oorlede.
Pieter Jooste het sowat ‘n maand gelede ‘n rit onderneem in die helikopter van Lourens du Plessis (regs). Pieter is Sondag oorlede.

THABAZIMBI – Pieter Jooste, die 15-jarige breinkankerlyer, is Sondag 31 Mei oorlede na ‘n tweejaarlange stryd teen kanker.

Die moeilike tyd waardeur Pieter en sy gesin gegaan het, het Thabazimbiërs aan die hart gegryp. Talle Thabazimbiërs, wat die afgelope maande saamgespan het om van Pieter se laaste wense te vervul, rou saam met sy gesins- en familielede. Pieter was een van vyf kinders van Edith en Frik Jooste. Hy laat sy oudste broer, Seun (23), suster Nicolene (21), en twee jonger broers, Martin (14) en Andries (12), agter.

Volgens Frik en Edith was Pieter ‘n stil en nie baie sosiale seun nie. Hy was baie lief vir visvang en hul gesin het dikwels by die Moletededam, op pad na Botswana, visgevang.

Pieter was ook ‘n groot Stormers ondersteuner en het verlede week die geleentheid gehad om een van sy groot helde, Schalk Burger, saam met ‘n hele aantal ander Springbokke wat tans oefen vir die toetse teen die Britse Leeus, te ontmoet. Hy self het Bulletjie-rugby by Laerskool Thabazimbi gespeel, waarvoor hy destyds ‘n trofee ontvang het.

Ander uitstappies wat Pieter onlangs onderneem het, was ‘n rit in ‘n limosien, ‘n helikopterrit saam met sy ma en Lourens du Plessis, en ‘n verkenningstog sowat ses weke gelede van Kumba se groewe en mynbedrywighede in ‘n Wabco Vragwa, bestuur deur Nico Peltzer.

Die dorp het as’t ware hande gevat om hierdie laaste uitstappies vir Pieter moontlik te maak. Peet van Breda van Kumba het die myn- en helikopter-uitstappies gereël, KANSA en ‘n onbekende skenker het die limosienuitstappie moontlik gemaak, en Hannes Coetzee van Spar en Nelmarie Schutte van Kumba het gereël dat Pieter vir Schalk Burger ontmoet.

Frik en Edith se woorde in hierdie tyd van hartseer is skaars, maar hulle sê dat hulle baie lief vir Pieter was en dat sy plek in die huis baie leeg is.

Hulle bedank al die mense wat hulle ondersteun het in hierdie hartseer tyd, met sms’e en onderskraging, veral Helpende Hande se Rykie May wat altyd daar was as Pieter haar nodig gehad het, dr Hearne wat hulle gereeld besoek het, pastoor Stephen Enslin en Hannes Coetzee van Spar vir die kos wat hy gereeld voorsien het.

Die begrafnisdiens vind vandag (Vrydag 5 Junie) plaas om 12:00 in die AGS-kerk Thabazimbi. Pastoor Stephen Enslin lei die diens.