Pepstores Thabazimbi maak groot skenking
THABAZIMBI – Met Pepstores se ruim skenking aan ‘n verwaarloosde bejaarde egpaar het die gemeenskap en besighede van Thabazimbi hierdie week weereens bewys dat hul omgee, veral vir sy bejaardes.
Dit het onder die aandag van Marie Steenekamp gekom dat ‘n baie siek, verwaarloosde, bejaarde egpaar onder onhigiëniese omstandighede bly, beide die bejaardes kan nie meer loop nie. ‘n Besoek deur Marie, Debbie Viljoen van Thaba Stereo en Linda Grobler, maatskaplike werkster van die SAVF is by die egpaar afgelê. Nadat daar ‘n behoefte bepaling gedoen is, is besluit om daadwerklik op te tree. Aan die verblyf kwessie kon nog nie veel gedoen word nie, maar die omstandighede rondom hul verblyf kan verbeter word. Dieselfde dag het Sue Eva, bestuurderes van Pepstores laat weet dat die Pepstores Streeksbestuurder opdrag gegee het, dat onverwyld warm slaapklere, komberse en linne aan die bejaarde egpaar geskenk moet word.
Namens die egpaar, Debbie Viljoen en Linda Grobler wil Marie haar dank uitspreek teenoor Sue Eva en die Pepstores bestuur en streeksbestuurder. Sulke optredes laat ‘n mens se hart warm klop in hierdie koue wintermaande, want ‘n bejaarde egpaar sal ook warm slaap hierdie winter. ‘n Spesiale woord van dank word ook uitgespreek teenoor die ander besighede wat maand vir maand aan Huis Tambotie vir verswakte Bejaardes skenkings doen en elkeen wat bydrae tot die oprigting van Huis Immergroen. Kontak Marie Steenekamp by 072 252 0770 of Debbie Viljoen 079 529 3778 by om deel te word van hierdie besonderse gemeenskapsprojek.