Sport

Northam Plats rol voort

Jan Engelbrecht
SETARIA – Northam Plats se Rhinos is nog aan die wen en Vrydag het hulle met Nylstroom  afgereken asook met Pagamen wat as Nylstroom se tweede span speel.

Die Rhinos het met mag en mening weggespring en voor Nylstroom hulle oë kon uitvee was die telling 7–0 in die manne van Northam Plats se guns.

Nylstroom het moedig voortgeveg maar sodra die Rhinos se agterspelers die bal in die hande kry was die gate te groot vir Nylstroom om toe te stop. Halftyd het Northam Plats 22–0 voorgeloop en klaar vier drieë gedruk. Die Rhinos het die wedstryd te los gemaak in die tweede helfte en die manne van Nylstroom toegelaat om terug te kom in die wedtryd. Nylstroom het twee drieë gedruk en Northam kon net ‘n strafskop aanteken.

Northam het ‘n paar uitblinkers gehad en die name van Pollie Lindenberg en Mark Humphries moet genoem word. Die twee losvoorspelers speel die veld vol en hulle speel tans uitstekende rugby. Agter was die hele agterlyn gevaarlik maar die twee vleuels, Steven Coetzee en Eric Mdyogolo, is ‘n doring in die vlees van menige teenstander.

JP Jacobs het die verdediging telkens in die lug laat gryp en groot gate in die verdedigers se agterlyn geslaan. Die puntemakers aan Rhinos se kant was

Steven Coetzee, wat twee drieë aangeteken het gevolg deur  Eric Mdyogolo en Andre Genis met een drie elk. JP Jacobs slaag met ‘n doelskop en Bennie Stander slaag met ‘n strafskop. Eindtelling Rhinos 25 Nylstroom 15.

Rhinos se tweede span het ‘n reuse aanslag afgeweer van Pagamen en moes alles in die stryd werp om die wedstryd in die sakkie te kry.

Rhinos was baie uitgedun met beserings en griep maar het die span wat tweede op die liga gelê het Pagamen met groot wil en deursettingsvermoë aangevat. Huidig is die Rhinos die enigste onoorwonne span in die liga en dit getuig van diepte die jaar by Northam se rugbyklub.

Pagamen se manne het alles in die boek probeer om die Rhinos te ontsenu, en hulle was oorgeniepsig, maar Northam se manne het koel en kalm gebly en die wedstryd met 6-0 gewen. Gerhard Coetzee het sy skopskoene by die huis gelaat anders was Northam se telling baie groter, Gerhard slaag met ‘n skep en strafskop.

Die ander uitslae van die naweek se kragmeting is Thabazimbi se eerste span klop Mogol  23-8, Union se eerstes wen Vaalwater 15-6 en Naboom se eerstes wen Warmbad.

Die naweek speel Northam tuis teen Union en dit beloof ‘n goeie wedstryd te wees want Union het nog net een wedstryd verloor en daar is nie groot liefde tussen die twee klubs nie.