Jukskei Ope Dag
MOOKGOPONG – Die jaarlikse Ope-Jukskei dag van Naboompark op Mookgopong op Saterdag 30 Mei, was ‘n reuse sukses met 24 spanne asook heelwat besoekers wat ingeskryf het.
Spanne van sover as Louis Trichardt, Tshipise, Polokwane tot Pretoria, Nigel en Vereeniging het meegeding in Afdelings A, B en C. Wat opvallend was, was die aantal Junior spelers wat hul man in die Seniorspanne gestaan het. Pryse is aan die eerste drie plekke oorhandig asook ‘n troosprys vir die span met die minste punte in elke afdeling. Die uitslae is as volg:
A-Afdeling (5 spanne): Eersteplek – Pretoria, tweedeplek – Pretoria se Blouspan en derdeplek – Thabazimbi. Die Tarentale 1 stap weg met die troosprys.
B-Afdeling (9 spanne): Eersteplek – Pretoria, tweedeplek – Tshipise 1 se Swaeltjies en derdeplek – Naboompark. Die Soutpan 1 span ontvang die troosprys.
C-Afdeling (10 spanne): Eersteplek – Steenbokke, tweedeplek – Tarentale 1 en derdeplek – Pretoria. Die Soutpan 1 ontvang hier die troosprys.
Die laaste byeenkoms vir die 2008/09 seisoen vind op Saterdag 13 Junie te Polokwane om 10:00 plaas en dit val saam met die 69ste Jaarvergadering van Limpopo Jukskei Unie.