Sport

Geslaagde borgdag vir jong spelers

THABAZIMBI – Die geborgde dag wat verlede Saterdag aangebied was, was ten bate van twee studente en was ‘n groot sukses. Jaco Prinsloo, ons huidige klubkampioen en Jacques van Tonder, twee studente aan die Universiteit van Pretoria is gekies om in Duitsland aan ‘n Internasionale Universiteite Putjiespel kompetisie te gaan deelneem.

Dit is ‘n groot prestasie en om hulle te help om onkostes te dek is die borgdag aangebied. Dit was ‘n span-kompetisie en die wenners was Nico van der Westhuizen, Johan Prinsloo, Hennie Smit en Kim Williams met 62 punte. Ettiene le Roux, Nita Barnard, Johan Barnard en Lindie Bredenkamp asook Heinrich Penzhorn, Charlie Penzhorn, Dean Celliers en Albert Tsai was saam tweede met 61 punte.

Baie dankie aan almal wat die vierballe geborg het en sterkte aan die twee jong manne. Dankie ook aan Esmé Behrens wat die dag gereël het. Ons hoop die twee manne gaan goed doen daar oorkant.

Vandag, Vrydag 5 Junie, is dit weer Interaksie gholf. ‘n Belangrike datum hierdie maand is die klub se Kanker Gholfdag wat op Saterdag 13 Junie gespeel gaan word. Dit is ook ‘n geleentheid wat al die lede behoort te ondersteun.