General

Thabazimbi sonder water vir ‘n dag

Hennie Pauw
THABAZIMBI – Thabazimbi-dorp het Woensdag 27 Mei vir ‘n dag sonder water gesit nadat geen elektrisiteit, onder die beheer van Eskom, by die pompstasie beskikbaar was nie.
‘n Noodberig is deur munisipaliteit by Thaba Stereo laat afkondig dat geen water beskikbaar sou wees nie, nadat die munisipaliteit se Elektriese Departement vroeg Woensdag deur Eskom ingelig is dat onderhoudswerk vir die dag beplan word.
Aangesien die munisipaliteit nie betyds in kennis gestel was nie en dus onvoorbereid was op ‘n geen-water-situasie, is gepoog om die inwoners in te lig deur die berig oor Thaba Stereo te laat uitsaai.
Volgens onbevestigde berigte was Eskom besig met onderhoudswerk op die lyn wat krag na die pompstasie voorsien. As gevolg van onderhoudswerk was daar blykbaar ook geen elektrisiteitstoevoer na Rooiberg.
Normaalweg, het amptenare verduidelik, word die munisipaliteit ‘n paar dae voor die beplande onderhoudwerk in kennis gestel, maar hierdie keer het hulle geen kennis gedra nie.
Die munisipaliteit het twee pompe onder in die dorp in werking gestel wat ‘n bietjie water beskikbaar gestel het aan inwoners in die laerliggende gebiede. Dit sou egter nie voldoende wees om water te voorsien aan inwoners wat hoër teen die berg op woon nie.
Navraag by beide Eskom se Kliëntediens-afdeling en Tegniese Afdeling, verantwoordelik vir onderhoud, het geen lig op die saak gewerp. Niemand het geweet van enige onderhoudwerk wat die pompstasie sou beïnvloed nie en niemand was beskikbaar vir kommentaar.