General

TBBV verklaar dispuut

THABAZIMBI – Die Thabazimbi Voorsitters Forum (TVF) waarvan die Thabazimbi Belastingbetalersvereniging(TBBV) ‘n lid is het Donderdag 21 Mei formeel ‘n dispuut verklaar teen die Thabazimbi Munisipaliteit.
Die dispuut handel oor die invordering van eiendomsbelasting volgens die nuwe wetgewing, vir die tydperk van 1 Julie 2008 tot 30 Junie 2009, oftewel die huidige finansiële jaar.
Die munisipaliteit het nou 21 werksdae kans om die gronde van die dispuut aan te spreek, voordat enige verder aksie deur die Thabazimbiese Voorsitters Forum (TVF) geneem sal word. Volgens Gert Snyman, voorsitter van die TBBV, hoop hy dat dit nie nodig sal wees om verdere stappe te neem nie, maar dat die probleme binne die volgende maand aangespreek en bygelê sal word.
Volgens Snyman is die dispuut verklaar omdat die munisipaliteit nie die wetlik korrekte prosedures gevolg het toe ‘n tarief van R0,0085/R ingestel is op eiendomme in Julie verlede jaar nie. Die stelsel waarvolgens eiendomsbelasting vasgestel word, het in Julie 2008 verander van heffings op die waarde van erwe na die heffings op die totale markwaarde van die eiendom, geboue en verbeterings ingesluit.
In terme van die wet (Municipal Systems Act), sê hy, was daar geen gemeenskapsbetrokkenheid en geleentheid vir die publiek om insette te lewer ten opsigte van die belastingbeleiddokument voordat dit deur die raad goedgekeur is nie. Dit blyk dat meer as een belastingbeleid in die verlede opgestel was en dat die een wat deur die raad goedgekeur was nooit vir publieke insae beskikbaar was nie. Die ander dokument was wel ter insae beskikbaar en kommentaar is daarop gelewer.
In terme van die Municipal Systems Act en die Municipal Financial Management Act moet daar publieke deelname wees en tweedens moet die goedgekeurde belastingbeleid deur ‘n ordonnansie(by-law) ondersteun word. Die ordonnansie bepaal die wyse waarop die tariewe gehef moet word. Daar bestaan nie ‘n goedgekeurde ordonnansie vir die boekjaar 2008/09 nie.
Voorts, sê Snyman, het die munisipaliteit nooit die tarief waarop daar ooreenkom is met die Voorsitters Forum en die TBBV, naamlik R0,00175/R, geïmplementeer nie. Tot vandag toe word ‘n tarief van R0,0085/R gehef.
Nog ‘n wetlike vereiste waaraan nie voldoen is voor die nuwe tariewe nie, is die finalisering van die waardasierol, wat tot op hede nog nie afgehandel is nie.
Volgens Snyman is die bestuur van die TVF en TBBV hoopvol dat daar nou ‘n periode van konstruktiewe onderhandelinge tussen die TVF/TBBV en die munisipaliteit sal plaasvind eerder as wat drastiese stappe deur die TVF/TBBV geneem sal word, soos die daarstel van ‘n trustfonds en die weerhouding van betalings aan die munispaliteit.
Die TVF en TBBV tree slegs op namens lede van hulle verenigings.