Sport

Northam Plats se Rhinos maak skoonskip teen Thaba

Jan Engelbrecht
SETARIA – Vrydagaand het die  Rhinos vir die eerste keer in jare met albei spanne teen Thabazimbi se rugbyklub gewen.
Daar is ‘n ryke tradisie van rugby in die Waterberg waar Thabazimbi en Mogol van Ellisras aan die voorpunt is, maar Northam Plats se Rhinos is besig om ‘n span te word waarmee rekening gehou moet word.
Van meet af was dit duidelik dat die twee klubs ‘n punt het om te bewys en graag wil bewys.
Thabazimbi het die eerste helfte met mag en mening aangeval maar die Rhinos se verdediging het gehou, Thaba het vroeg 3-0 voorgeloop maar toe slaan die Rhinos terug met ‘n drie en twee strafskoppe wat die halftyd telling op 11- 3 gelaat het. Na half tyd het Thaba teruggeslaan met ‘n drie en ‘n strafdoel en die telling was 11-11.
Thaba het daarna kamp opgeslaan in die Rhinos se helfte. Sekondes voor die eindfluitjie het die Rhinos met ‘n agterlyn beweging in hulle eie helfte begin en na ‘n paar hanterings is die klein blits Steven Coetzee oor die doellyn wat aan die Rhinos ‘n baie seldsame oorwinning besorg het.
Puntemakers aan Rhinos se kant was Steven Coetzee en Eric Mdyogolo met drieë. Bennie Stander met 2 strafskoppe en JP Jacobs slaag met ‘n doelskop. Die eindtelling was 18-11.
Die tweede spanne moes met ‘n plaaslike skeidsregter klaarkom toe die skeidsregter van Pretoria nie opgedaag het nie. Die wedstryd was van meet af oorlog en Thaba wou bewys hoekom hulle die huidige kampioene is. Rhinos se tweede span is hierdie jaar witwarm en sal moeilik geklop word. Die twee drieë wat die Rhinos gedruk het was meesterstukke en hulle het gate deur die verdedigers gehardloop. Daar was ongelukkigheid omdat een van die Rhinos se beamptes geblaas het, maar albei spanne het daartoe toegestem en die Rhinos het met driee gewen met ‘n eindtelling van 14-3.
Die puntemakers was Cristiaan van den Berg en Wheelen Fortuin met drieë en JP Jacobs slaag met 2 doelskoppe.
Hierdie Vrydag speel Thaba teen Mogol op Thaba Park en die Rhinos speel teen Nylstroom in ‘n wegwedstryd.