General

Erekenning vir Lephalale Plaaswerkers

Dr Theo de Jager (adjunk president van Agri SA en hoof spreker) wens die wenner van die Lephalale Plaaswerker van Jaar 2008, LP Mosipidi, hier met Adolf Grobler (landbou-ekonoom van FNB).
Dr Theo de Jager (adjunk president van Agri SA en hoof spreker) wens die wenner van die Lephalale Plaaswerker van Jaar 2008, LP Mosipidi, hier met Adolf Grobler (landbou-ekonoom van FNB).

Elana Greyling
LEPHALALE – In ‘n bedryf wat dikwels gekenmerk word deur waninligting en politieke opstoking aan arbeidskant, is daar een besliste positiewe bewys dat dit nie so sleg gaan in die landbousektor tussen werkgewer en werknemer as wat mense dink nie.
Die tweede jaarlikse kompetisie om die beste plaaswerker in die Lephalale-distrik te kroon, is op 19 Mei tydens ‘n spoggeleentheid afgehandel.
Die Lephalale Plaaswerker van die Jaar vir 2008 is Erens Mosipidi, ‘n werknemer op die plaas Doornlaagte naby Steenbokpan. Hy het ‘n kontantprys van R 5 000 en nog heelwat pryse van borge ontvang.
Hy en sy pa, Ramarula, wat reeds sedert 1947 vir die Steenkamp-familie werk, is eersteklas plaaswerkers. Die feit dat heirdie beroep in vandag se tyd ‘n hoogs gespesialiseerde beroep is wat opleiding en vaardigheid verg, is deur die hoofspreker, dr Theo de Jager beklemtoon. De Jager het werkers geloof vir hulle toewyding en harde werk. “Om kos vir ons mense te voorsien, is een van die heel belangrikste take in die land,” was sy woorde.
In die tweede plek was Fanie Seloba. Hy kon ongelukkig nie sy prys self ontvang nie omdat hy gekeur is uit 19 persone in die provinsie om ‘n gevorderde kursus in Professionele Jag by te woon. Die kursus is spesifiek vir spoorsnyers ingestel om hulle die geleentheid te gee om verder in die veld te vorder. Sy werkgewer, Corne du Plessis, wat die prys van R 3 000 namens hom ontvang het, is baie trots op Seloba.
Die derde plek is verower deur Moses Mokoena van die plaas Mooipan van Hein Boegman en Frik Botha. Thomas Molemisi is ook van Doornlaagte en het die vierde plek ingeneem.
Vyfde plek het gegaan aan Oupa Matolela van die plaas Witkop naby Steenbokpan. Sy werkgewer, Archie Leach, glo hy verdien die toekenning dubbel en dwars.
Die burgemeester van Lephalale, Raadslid Rosina Mogotlane, het haar trots uitgespreek jeens plaaswerkers, maar ook teenoor die organiseerders en borge van hierdie verdienstelike kompetisie. Borge soos Agri Lephalale, FNB, Wesvoere, Obarro, NTK/Landmark, Molatek, Driehoek Voere, Build It, Velen Rose, Quality Store, Echo 4×4, Domitor Drukkers en Nico Terreblanche het die aand en die vele pryse moontlik gemaak.
Die nuwe LUR van landbou Dipuo Letsatsi-Duba, kon weens dood in die familie, nie die aand bywoon nie. Sy het egter haar gelukwensing aan plaaswerkers oorgedra via ‘n toespraak wat deur die burgemeester voorgelees is.
Die kompetisie neem jaarliks in gewildheid toe en is beslis ‘n instelling wat van krag tot krag sal gaan, verseker die voorsitter van die komitee, dr Lolly Fourie alle plaaswerkers en werkgewers in die Lephalale-gebied.