Prestasietoekennings aan SAP-lede – Northam

Kaptein Magwaye (links) van Northam polisie ontvang ‘n sertifikaat vir lojale diens. Na amper ‘n jaar en ‘n half as misdaadvoorkomingsbevelvoerder, het sy aangesluit by die 10111-sentrum in Mokopane. By haar is Northam Stasiebevelvoerder, Superintendent Schmidt.

Hennie Pauw
NORTHAM – Geweldsmisdade soos gewapende roof, moord en aanranding met doel om ernstig te beseer het in die afgelope maande drasties in die Northam-gebied gedaal.
Volgens konstabel George le Roux, woordvoerder vir die Northam Polisie, is hierdie afwaartse tendense, na alle waarskynlikheid, toe te skryf aan hul misdaadvoorkomingseenheid wat beter bestuur word en wat, in terme van mannekrag, verdubbel het. Die publiek in Northam speel ook ‘n groot ondersteuningsrol. Inligting word op gereelde basis van die publiek ontvang, wat tot arrestasies lei.
Nog ‘n belangrike rolspeler is die Departement van Justisie. Tydens hofsake word goeie vonnisse opgelê soos byvoorbeeld ‘n onlangse vonnisoplegging van 25 jaar vir verkragting en moord. Die ondersoekbeampte was inspekteur Mochampi. Nog ‘n beskuldigde is gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf vir verkragting en die ondersoekbeampte in hierdie saak was inspekteur Matsibi.
Om erkenning te gee aan die lede van Northam Polisiestasie is daar op Woensdag 13 Mei tydens ‘n geleentheid by Northam Lapa sertifikate oorhandig vir arrestasies, effektiewe gebruik van informasie en uitstekende ondersoekwerk.