General

Eskom – klagtes neem toe

Mnr Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het die hoop uitgespreek dat die veranderinge in die kabinet verligting sal bring vir lede wat vir jare al sukkel met swak diens van Eskom. Die opmerking spruit ondermeer voort uit ‘n kragonderbreking wat op Donderdag 6 November 2008 om 06:30 plaasgevind het waartydens die toevoer na al die lyne af was tot laat die oggend op 10 November 2008. Sekere boere se elektrisiteit was nooit herstel nie en het geen elektrisiteit gehad tot en met Dinsdag 11 November 2008.
Saterdag is mnr Mokgothlo, Streeksareabestuurder: Kliëntediens, geskakel. Hy was nie eers van die probleem bewus nie. Mokgothlo is weer op Maandag 10 November 2008 geskakel en hy was nie bewus van die feit dat die fout nie herstel is nie.
Tydens ‘n vergadering wat gehou is op 18 Desember 2008 is besluit dat skrywes gerig kan word aan Timothy Letlape en Zanele Sithole om die volgende inligting te verkry:
‘n Lys en die uitleg van die tegniese probleme wat ondervind was, was van die KRB en KMT lyne van Koffiefontein en omringende plase;
Die installering van ‘n kwaliteitsmeter wat die volgende inligting moet verskaf: fluktuasies, waarde van die spanning, frekwensie en wanneer die krag af is;
Die volgende indekse: SAIFI, SAIDI, en ASAI
In die briewe is aangedui dat die waardes gedefinieer is in die NRS 048:622 2006 dokument. Daar was ooreengekom dat die inligting aan die boere gegee sal word. Tydens die Thabazimbi Distrik Landbou Unie Algemene Raadsvergadering wat op 4 Mei 2009 plaasgevind het, waar mnr Letlape teenwoordig was, moes boere weer hoor dat daar nog geen terugvoer beskikbaar was nie. Tydens die vergadering is ook verneem dat die krag vanaf 1 – 4 Mei 2009 in die Makoppa gebied af was. Mnr Letlape was ook nie daarvan bewus nie.
Die eienaar van ‘n plaas in die Warmbad-omgewing het toevallig op Maandag 14 Julie 2008 op ‘n voertuig met sogenaamde Eskom werknemers op sy plaas afgekom. Die insittendes het egter geweier om hulself te identifiseer en het ook geweier om aan te dui wat hulle op die plaas doen. Tydens ‘n later vergadering met Eskom op Warmbad is gevra dat die name van die persone wat op die plaas opgedaag het aan die eienaar te verskaf, asook ‘n afskrif van die register en die opdragkaart, skriftelike redes vir die besoek, waarom die meterhouer gesluit was, wie die toesighouer was van die persone wat op die plaas was. Geen terugvoer is ontvang nie. Die ooreenkomste wat in die vergadering bereik was en wat per notule aan Eskom gestuur was, is doodgewoon geïgnoreer. Einde April 2009 het lede weer rapporteer dat Eskom hekke in die omgewing half oop los.
Viljoen het gesê dat hy bekommerd is oor die gedrag van Eskom se werknemers. Geen water kan gepomp word indien die kragtoevoer afgesny word nie. Besproeiingsboere wat besig is om koring van die lande te stroop, kan geen oorlaaifasiliteit gebruik om die koring oor te laai van die silo’s of opbergingsplek na die grootmaatvervoervragmotors wat hierdie koring na kopers moet vervoer nie. Al die yskaste, vrieskaste en koelkamers was af en groot hoeveelhede kos het vrot geword. Wildsboere het erg skade gelei omdat kliënte betaal vir wild en wanneer die koelgeriewe nie beskikbaar is nie, word erge probleme ondervind. Elke keer is dit die boer wat geld verloor. Meer nog, tydens die kragonderbreking het die Telkomlyne se batterye ook nie die nodige elektrisiteit gehad nie en kon geen telefoondiens gebruik word nie. Vodacom en MTN was ook nie beskikbaar nie. Selfs die radiosisteem was buite werking as gevolg van die kragonderbreking. Die sekuriteitsrisiko het dramaties verhoog en die vraag kan gevra word of Eskom nie moet begin verantwoordelikheid aanvaar vir die grootskaalse ontwrigting wat deur swak diens veroorsaak word nie.
Viljoen het sê dat daar van boere verwag word om kos en vesel te produseer. Dit wil voorkom asof Eskom doelbewus of uit gruwelike nalatigheid, die platteland doelbewus saboteer. Hy het gesê dat daar gekyk moet word om ‘n klasaksie teen Eskom in te stel vir die kriminele nalatige manier waarop die plattelandse mense behandel word.