Reën stuit nie Spinathon

Die wenners van vanjaar se Spinathon was ‘n span van Exxaro. Van links op die foto is Lize Momberg, Spinathon organiseerder van KANSA, Fred Seymor, Ansie Seymor, Christo Matthee en André du Toit. Die Spinathon was midde in die week waartydens Exxaro sy 500 km traptog doen.
Die wenners van vanjaar se Spinathon was ‘n span van Exxaro. Van links op die foto is Lize Momberg, Spinathon organiseerder van KANSA, Fred Seymor, Ansie Seymor, Christo Matthee en André du Toit. Die Spinathon was midde in die week waartydens Exxaro sy 500 km traptog doen.

THABAZIMBI – Tydens die afgelope Expo het deelnemers van so ver as Sishen die wiele laat rol ten bate van die Nasionale Kankervereniging, ten spyte van ‘n paar reënbuitjies.
Die spanne van Active Life Gym, Swartklip en Exxaro het saam die meeste kilometers aangeteken tydens vanjaar se Spinathon. ‘n Groep genaamd Fantastic Four het bewys dat spin pret kan wees in opblaaspakkies.
Daar was, onder andere, ook spanne van skole, Thaba Stereo, Thabazimbi banke en die SAVF, ‘n gemeenskapsorganisasie net soos KANSA.
Die wenspan in die Volwasse Span-kategorie was Exxaro met lede van Pretoria en Thabazimbi. Hulle is die wenners uit 18 spanne. HFM1 het die Senior Skolier-kategorie gewen, waarin daar altesaam vier spanne deelgeneem het en Laerskool Thabazimbi se Limpopo Gymnastics het die Junior Skolier-kategorie gewen. Hulle was die beste uit drie spanne.
Die plekke wat in die Volwasse Kategorie behaal was, was Exxaro eerste met 15,75 km, Active Life (Zanie) tweede met 15,29 km, Beauty & Beast derde met 15,23 km en Active Life (Wilma) vierde met 15,17 km. Swartklip 2 se Groen Span was vyfde met 14,9 km,  Swartklip 3 sesde met 14,84 km en Sishen KIO sewende met 14,36 km. Agtste was Swartklip 1 met 13,9 km, Swartklip 6 (die Statement Boys) negende met 13,73 km en Swartklip 4 (die Slick Toppies) tiende met 13,37 km.
Die ander spanne in volgorde was Fantastic 4, Swartklip 5, Laerskool 2 (Rieme), Laerskool 1 (Onnies), Thaba Stereo, SAVF en KANSA se eie span was heel laaste!
HFM1 se wenspan in die Senior Skolier-kategorie het 15 km afgelê en HFM2 14,23 km. Neos Koedoeskop was derde met 13,38 km en Tina Cowley vierde met 12,65 km. Die Junior Skolierspan-wenners, die Limpopo Gymnastics, het 11,64 km afgelê, die Flash-span van Laerskool Thabazimbi 11,37 km en die Billabong-span van Laerskool Thabazimbi 11 km.
Volgens KANSA-voorsitter in Thabazimbi en hooforganiseerder van die Spinathon, Lize Momberg, is KANSA ontsaglik dankbaar teenoor die borge, deelnemers en toeskouers aangesien dit KANSA in staat stel om Suid-Afrikaners kankerslim te maak. Alle fondse wat ingesamel word, word aangewend vir kankerverwante doeleindes, hetsy interimhuise, navorsing of gesondheidsopvoeding, om maar ‘n paar te noem.
Daar is reeds groot belangstelling in volgende jaar se Spinathon, sê Lize. Enigeen wat belangstel om aan te sluit by KANSA of ‘n donasie wil maak kan haar skakel by 082 520 8455.