Ongeluk eis 3 lewens

Twee vragmotors van onderskeidelik Fast Freight en Lenata was in ‘n noodlottige ongeluk betrokke op die Brits-pad verlede week. Drie mense is dood in hierdie ongeluk.
Twee vragmotors van onderskeidelik Fast Freight en Lenata was in ‘n noodlottige ongeluk betrokke op die Brits-pad verlede week. Drie mense is dood in hierdie ongeluk.

Hennie Pauw
NORTHAM – Drie mans het hul lewens verloor in ‘n botsing tussen twee vragmotors sowat 61 km suid van Thabazimbi op die Brits-pad op Donderdagoggend 7 Mei.
Die ongeluk is as “geweldig” en “verwoestend” beskryf deur Frik Maritz van Thabazimbi aan wie ‘n gedeelte van die vrag op ‘n Fast Freight-vragmotor behoort het. Volgens hom is die Fast Freight voertuig so erg verwoes dat die enjin eenkant, die onderstel elders en die bak ook elders opgeëindig het.
Die kake van die lewe is ingespan om die twee insittendes van die Fast Freight vragmotor te bevry. Stewart Khumalo (27) en die bestuurder Albert Mabote (ook 27), beide van Johannesburg, is op slag dood tydens die botsing. Dis ‘n groot verlies vir Fast Freight, wat twee besonder pligsgetroue werknemers verloor het, sê Maritz.
Die ander voertuig wat in die ongeluk betrokke was, was ‘n ertsdraer van Lenata, wat op pad na Rustenburg se smeltery was. Die bestuurder van hierdie vragmotor, Dawid Menoe (46), is met veelvuldige breuke en spinale en hoofbeserings na ‘n Pretoriase hospitaal oorgeplaas nadat hy uit die vragmotor geslinger is as gevolg van die impak. Hy het teen Donderdagaand 21:00 gesterf as gevolg van sy beserings.
Die ongeluk het voor 05:00 Donderdag 7 Mei plaasgevind sowat 500 m vanaf die Northam-afdraai op ‘n reguit stuk pad. Die ertsdraer was op pad suid en die Fast Freight-vragmotor in die rigting van Thabazimbi.
Volgens ooggetuies op die toneel het die botsing plaasgevind in die regterkantste baan in ‘n noordelike rigting wat ‘n sterk vermoede laat ontstaan het dat die bestuurder van die Fast Freight voertuig aan die slaap geraak het en dat daardie vragmotor besig was om oor die pad te beweeg in die rigting van aankomende verkeer.
Die Northam polisie kon nie hierdie teorie bevestig nie aangesien die ondersoek nog voortduur. Daar word egter prosedureel ‘n saak van strafbare manslag ondersoek.