Mynbou gaan landbou en toerisme in Limpopo vernietig
Nadat dit bekend geword het dat verskeie mynlisensies vir die ontginning van steenkool toegeken is het dr Wilhelm Schack, voorsitter van die Waterbergomgewingsbewaringskomitee, gesê dat dit wil voorkom asof minerale, wat tradisioneel bekend staan as die plek waar groot geld gemaak kan word, nou lynreg te staan kom teenoor voedselsekerheid en sensitiewe kultuur en erfenis goedere.
Nie eers die wêreldberoemde Mapungubwe erfenis gebied blyk bestand te wees teen blatante gierigheid nie. Hy het gewaarsku dat die grootliks ongeskonde gebied binnekort dieselfde vernietiging kan ervaar as die Witbank–Ermelo–hoëveld gebied. Dit is tyd dat Suid Afrika die vernietigende impak van mynbou moet opweeg teen voedselsekerheid en die beskerming van die omgewing en ons erfenis vir ons nageslag. Steenkoolmyne en steenkoolaangedrewe kragstasies is wêreldwyd bekend vir die ongehoorde hoë besoedelingsvlakke wat aan grond, water en lug aangerig word.
Volgens Schack is die volgende projekte reeds gelys: Mokolo en Krokodilwes wateraanvullingsprojek; Eskom Makopane Integrasieprojek tussen Ellisras en Potgietersrus; Verskeie Eskom substasie ontwikkelings; Steenkool–metaan projek in die Springbokvlakte; Verskeie Eskom lyne; Nuwe Steenkoolmyn by Mudimeli (Coal of Africa); Steenkoolmyn en moontlike steenkoolgedrewe kragstasie by Waterpoort. Daar is ook verskeie ontwikkelings naby Messina asook verdere prospektering aansoeke in die Potgietersrus gebied. Daar word ook beplan om steenkool in Botswana te ontgin.
Schack sê dat indien die projekte voortgaan, plus die geweldige uitbreiding in Ellisras en die moontlike ontwikkeling van Sasol ook by Ellisras, gaan die hele gebied vanaf Ellisras tot in Messina finaal vir landbou en toerisme vernietig word. Hy het gesê dat dit krities belangrik is dat gemeenskappe in die gebied die invloed van die mynbouaktiwiteite moet verreken. Die besoedeling van ‘n multinasionale rivier soos die Limpopo sal in ag geneem moet word, asook die vernietigende gevolge van besoedeling in die Kruger Nasionale Park.
Hy sê dat daar gekyk moet word na alternatiewe vorme van energie in die lig van die globale aardverwarming krisis. Suid-Afrika mag nie maak asof die vernietigende impak op die omgewing nie sy buurlande en die res van die wêreld raak nie. Mynbou in 2009 het ‘n globale voetspoor wat verreken moet word.
Mnr Jan Viljoen, Voorsitter van TLU SA Noord het gesê dat landbouers beslis deel sal neem aan al die prosesse wat volgens wetgewing in plek gestel moet word. Hy het lede aangemoedig om seker te maak dat die volle en kumulatiewe impak van die ontwikkelinge deeglik nagevors moet word. Landbouers wat verantwoordelik is vir die produksie van voedsel en vesel vir al Suid Afrika se mense mag nie toelaat dat die oorlewingsvermoë van ‘n land lukraak op die spel geplaas word nie.