Jagbepalings vir wild in Thabazimbi landdrosdistrik
THABAZIMBI – Die oop jagseisoen vir 2009 wat amptelik op 1 Mei geopen het, beloof om groot groepe jagters na die Thabazimbi area te lok en gevolglik ‘n hupstootjie in die plaaslike ekonomie te gee.
Vanweë die groot volumes wild wat jaarliks gejag word, is daar oorhoofse maatstawwe in plek gebring om die jag van wild op oop plase, met ander woorde, plase wat nie wildwerend omhein is en wat nie ‘n P3 vrystelling het nie, te reguleer. Enige persoon wat jag op ‘n oop plaas wat nie aan hom behoort nie moet ‘n geldige jagpermit hê en wanneer enige wild vervoer word, moet ‘n geldige permit getoon kan word. Jagters word gemaan om te alle tye ‘n geldige permit te hê aangesien hulle daarsonder aangekla sal word en die wild gekonfiskeer sal word. Slaghuise wat wild verwerk moet ook ‘n geldige permit hê sowel as besighede wat wild verkoop, hierdie permitte moet by Natuurbewaring (Rietbokstraat) uitgeneem en jaarliks hernu word. Alle jagters moet hul ook daarvan vergewis dat ‘n vlakvarkpermit by die Departement van Landbou uitgeneem moet word vir vervoer doeleindes. Volgens die Provinsiale Gazette van 4 Maart 2009, dienooreenskomstig Wet 7/2003 onder Artikel 32(1) van die Limpopo Omgewingsbestuurswet is die wild wat tydens die oopseisoen op oop plase waarvan die jagter nie die eienaar is nie, gejag mag word, hetsy die jagter ‘n geldige permit het, in die Thabazimbi landdrosdistrik as volg: 1 Mei 2009 – 31 Julie 2009: Dwerghaas (Lepus saxatillis); Vlakhaas (Lepus capensis) en Gewone grys duiker (Sylvicapra grimmia). 1 Mei 2009 – 31 Julie 2009: Koedoe (Tragelaphus stripsiceros). 1 Mei 2009 – 31 Julie 2009: Bosbok (Tragelaphus scriput). 1 Mei 2009 – 31 Julie 2009: Rooibok (Asepeceros melampus). 1 Mei 2009 – 30 April 2010: Kaapse bobejaan (Papio ursinus) en Blouaap (Chlorocebus aethiops).
Volgens Bylaag 1 van die Skedule is die volgende plase in die Thabazimbi Landdrosdistrik toe vir jag doeleindes: Batavia 176KP en Brosdoringhoek 433 LQ; Gedeelte 2 en 3 van plaas Klipdrif KO, 231; Gedeelte 4, 5, en 6 van die plaas Hoopdal, sowel as gedeeltes Kaalbult en Rustfontein wat aan die SAPD behoort asook alle gronde van die veeartsheining tot in die middel van die Marico/Limpoporivier op Botswana/Suid-Afrika grens. Kontak Eugene by Natuurbewaring by 014 777 1539 of KP van Dyk by 078 251 0860 vir verdere navrae.