General

Thabazimbiese egpaar vir 7,5 uur aangehou

Elsabé en Deon van der Merwe van Blinkblaarstraat is Donderdagnag 30 April deur rowers oorval en ontvoer. Hulle gebede en samewerking het waarskynlik hulle lewens gered, sê die egpaar.
Elsabé en Deon van der Merwe van Blinkblaarstraat is Donderdagnag 30 April deur rowers oorval en ontvoer. Hulle gebede en samewerking het waarskynlik hulle lewens gered, sê die egpaar.

THABAZIMBI – Deon en Elsabé van der Merwe van Blinkblaarstraat is op Donderdagnag 30 April vir meer as sewe en ‘n half uur deur rowers aangehou en rondgery en van hul motors, geld, juwele, selfone en ander kosbaarhede besteel. Twee van die vier rowers is in ‘n skietery in Cullinan gewond en word tans in hospitaal behandel en aangehou.
Elsabé en Deon is oorval deur vier gewapende mans net na 20:00 Donderdagaand toe Elsabe tuisgekom het kort nadat sy inkopies in Rustenburg gedoen het en R2 000 kontant getrek het in Thabazimbi.
Beide Deon en Elsabé is vasgebind met skoenveters, elektriese kabels of toue van ‘n swaaistoel. Deon is gedwing om die kluis te open, waar hulle ‘n vuurwapen gesteel het en ‘n plundertog deur die huis gevoer het vir kosbaarhede. Al die kontant, juwele, selfone, skootrekenaars en kamera is gevat voordat Deon en Elsabé in hul Toyota Fortuner gedwing is en in ‘n suidelik rigting geneem is. Ook die myn se Ford Ranger bakkie, wat deur Deon gebruik word, is gesteel en deur die vierde rower bestuur.
Die presiese roete waarop die Van der Merwes geneem is hiervandaan kan hulle net oor spekuleer. Hulle is gedurig aangesê om nie na die rowers te kyk nie en is met tye hardhandig behandel om samewerking te verkry.
In Northam is hulle agter in die bakkie gelaai toe die Fortuner volgemaak is met brandstof en toe is daar teen ‘n spoed van ongeveer 180km/u gejaag in die rigting van Brits. Hierna is hulle in die rigting van Betanie, waar hulle in die veld gestop het terwyl die voertuie deursoek is, vermoedelik vir die verwydering van die Tracker-toestel.
Hierna is hulle weer in die motor geboender en in die omgewing van Barseba afgelaai met Deon se ID en R100. Na sowat ‘n halfuur se gespook het Deon en Elsabé daarin geslaag om hulle los te knoop. Elsabé het die toue om Deon se hande met ‘n stukkende koeldrank-blikkie gesny. Na ‘n halfuur se loop (dis was reeds naby 03:00 Vrydagoggend) het ‘n motor verbygery. Hul gebed is egter verhoor en die man het omgedraai om hulle te help en kort daarna ‘n tweede man in nog ‘n voertuig.
Hulle is saam met die eerste man na die Brits Polisiestasie toe waar hulle die saak aangegee het en Deon se broer gebel het om hulle op te laai. Hiervandaan, sê Elsabé, was die mense ongelooflik. Daar was klaers by die Brits polisiestasie wat warm klere, koffie en slaapsakke voorsien het om hulle in hul geskokte toestand warm te maak.
Tuis het die Linda en Charl Brits, hul ander vriende, die polisie en die gemeenskap hulle op die hande gedra en ondersteun. Hulle huis is opgeruim en die honde versorg. Traumaberaders van Pretoria het hulle gekontak en berading oor die telefoon gegee.
Die verhaal eindig egter nie daar nie. Intussen het die vier rower probeer wegkom met die gesteelde voertuie, maar by die tolplaza oos van Pretoria naby Cullinan het die rowers vermoedelik die kameras by die plaza probeer vermy. Hulle het die pad verlaat en op ‘n dienspad langsaan verby probeer kom. In die proses het die Fortuner se band gebars en is hierdie voertuig vroeg Vrydagoggend deur ‘n boer in die omgewing opgemerk.
Hy het gesien dat die draad by die oprit geknip is en vermoed dat iets eienaardigs aan die gang is. Toe hy wou ondersoek instel het twee mans weggehardloop en die steunkringstelsel van boere in die omgewing is onmiddellik in werking gestel. Binne minute was daar baie boere op die toneel. ‘n Skietery het ontstaan en die twee rowers is gewond. Intussen het die Boskop en Cullinan polisie opgedaag.
Die boere het hierna die gebied deursoek en heelwat van die gesteelde goedere, waarvan die rowers ontslae probeer raak het, gevind. Een van die skootrekenaars is later by die Lebombo-grenspos in ‘n taxi gevind, maar die Ford en ander twee rowers is nog nie opgespoor nie.
Volgens Bennie van Zyl, bekende in die TLU-kringe en inwoner van Cullinan, werk hulle steunstelsel baie goed en is die samewerking tussen hulle en die polisie ook goed. Dit is waarskynlik hieraan te danke dat twee van die rowers vasgetrek is.
Die twee gearresteerde rowers, het, vanweë hul gesondheidtoestand, nog nie in die hof verskyn nie. Hulle word moontlik verbind met ander soortgelyke misdade in die Thabazimbi-distrik. ‘n Saak van huisroof en moontlik ontvoering en motordiefstal word tans ondersoek.