Skoonheidskompetisie by Expo

THABAZIMBI – Die Mnr en Mej Thabazimbi Expo skoonheidskompetisie is vir die sesde agtereenvolgende jaar deur Studio III in samewerking met Thaba Spar aangebied. Hierdie kompetisie het op Vrydag 1 Mei op die Thaba Spar verhoog plaasgevind en neem elke jaar in gewildheid toe. Meisies van so ver as Sasolburg en Johannesburg het hierdie jaar hul draai kom maak op die Thabazimbi Expo se loopplank. Die uitdun rondte het vanaf 12:00 plaasgevind en die senuwees onder die meisies het redelik hoog geloop toe hul elkeen ‘n vraag op die verhoog voor die hele gehoor en die beoordelaars moes beantwoord voordat die loopplank betree kon word. Aan entoesiasme en oorspronklikheid was daar egter geen tekort nie en die beoordelaars het behoorlik ‘n kopkrap sessie gehad. Die aand se finale het om 16:30 in aanvang geneem en die meisies het voorwaar uitgehang met swierige aandrokke en hul beste stappies. Vanjaar was daar ‘n toevoeging tot die kompetisie in die vorm van ‘n stemlyn wat geborg is waarop die toeskouers vir hul gunsteling deelnemer kon stem en op die koop toe ‘n kans gestaan het om ook ‘n prys te wen. Die gehoor se gunstelinge was Ernst McMahon in die Mnr Expo afdeling en Meranda Boshoff in die Mej Expo afdeling wat elkeen met ‘n kredietkaart van R1000 weggestap het. Die persoon wat deur die rekenaar geselekteer is as die gelukkige stemmer het ‘n splinternuwe selfoon en lugtyd gewen. Die kompetisie was vanjaar besonder sterk tussen die meisies en dit was vir die beoordelaars voorwaar ‘n moeilike taak. Elkeen wat deelgeneem het of die geleentheid geborg het word opreg bedank.