Modderrige 4×4 modderritte sorg vir groot pret
Francois Steyl
THABAZIMBI – Dié jaar se modderritte het maar baie trietsig begin met die koue en reënvlae wat elke nou en dan neergesif het, maar het nie die toeskouers of deelnemers se entoesiasme aangetas nie.
Met die eerste 4×4’s wat se enjins begin brul het, het die adrenalien gesorg vir die warm gevoel aan die binnekant en die warmmaak dingetjies het die finale deurslag gegee.
Dit was, soos verlede jaar, weer ‘n droë najaar en daar moes heelwat water gegooi word. Op versoek van deelnemers is die modder by sekere hindernisse baie beperk. Die algemene terugvoer van deelnemers was dat die baan die jaar die lekkerste een was. Daar was tog genoeg modder sodat ‘n rooi Hilux dubbelkajuit die toeskouers ‘n modderstreep kon gee. ‘n Totaal van 40 voertuie het ingeskryf, met geen groot skade aan die voertuie nie, alhoewel ‘n hele paar op hul sye beland het.
Die uitslae was as volg: Dames afdeling: Susan Barkenhuizen en AJ van Rensburg eersteplek in ‘n Landcruiser, Estelle Booysen en Jaco Booysen tweede in ‘n CJ5 Jeep.
Langwielbasis: Riaan v Niewenhuizen en Vic Steyn eersteplek in ‘n Toyota Hilux, Jaco Booysen en Hennie v Dyk tweedeplek in ‘n CJ 5 Jeep, AJ du Toit en Gerrie v Vuuren derde in ‘n Toyota Hilux.
Kortwielbasis: JP Snyman en Johan Smal eersteplek in ‘n Suzuki Jeep, Gustav Brink en Letia Pretorius tweede ook in ‘n Suzuki en Yssel Mulder en Magda van Wyk derde in ‘n Jeep.
Die algehele wenner was Quintin Cheyne in ‘n Landrover.
Die organiseerders wil graag die deelnemers bedank vir hulle deelname en die gees waarin hulle deelgeneem het, asook die toeskouers wat daar was om die dag te mee te maak ten spyte van die weer. Die borge by name Thaba Tyres, Tren Tyre, Supa Quick, Thabazimbi Glas, Obaro, Konstructica, S&Z Motors, Midas onderdele, Autozone, Roux Engineering, Bosgas/Blue Chip, Thabazimbi Plaag en Onkruidbeheer en Afgri, sonder wie die dag nie moontlik sou wees nie. Die organiseerders wil ook ‘n woord van dank en gelukwense aan Oppikoppi Promotions se Ingeborg oordra vir ‘n kokende Expo.