Kampioene jaag mekaar met potjies
THABAZIMBI – Verlede jaar se kampioene by die jaarlikse Expo Wildspotjiekoskompetisie is deur een van die ander gereelde deelnemers onttroon. Die Swarie-span van Nico en Ernest het die Jagkampspan uit die eerste plek gehaal met hul koedoe-bredie. In die tweedeplek was ‘n algehele buiteperd, die Exxaro Challengers Punjab-span, al die pad vanaf Pretoria. Die Jagkampspan moes vanjaar toe maar met die derdeplek tevrede wees.
Van die veertien spanne wat oorspronklik ingeskryf het het tien spanne die trietsige weer weerstaan en sommer vroeg die oggend hul vure aangesteek. Dankie dan ook vir Karin wat namens haar firma die Old Brown Sherry by die stalletjies uitgedeel het. Dit het sommer baie gehelp om die koue te verdryf.
Buiten die R1000 kontant geskenk deur Dewside, die naam waaronder Thabazimbi se eie bier eersdaags gebrou gaan word, het die wenners ook ‘n naweek vir agt persone by Kudu Lodge by Ben Alberts ter waarde van R7500 gewen asook R1000 se koopbewyse by Shoprite. Die span wat tweede geëindig het, het R700 kontant gewen wat geborg is deur Dewside asook ‘n naweek vir twee by Livingstone gastehuis plus ‘n wildsrit met ‘n totale waarde van R3000. Die derdepryswenners het R300 kontant van Dewside ontvang asook ‘n naweek vir twee van El Shadai gastehuis ter waarde van R2200.
Die span wat beloon was vir hul poging maar volgens die beoordelaars nie so lekker by die tema ingepas het nie was die Toeka tot Nou-span vanaf Harties en Krugersdorp wat Barok-musiek op hul ou 78rpm His Masters Voice grammafoon gespeel het, dit tydens ‘n eg tradisionele boerekompetisie. Hulle is darem beloon met vier maglights. Gelukkig is dit een van die spanne wat reeds vir die afgelope tien jaar of wat elke jaar hul deel by die potjie bring en nog nooit leë hande daar weg is nie.
Douglas Green het ook ‘n hele paar bottels van hul uitstekende Tall Horse wyne aan deelnemende spanne uitgedeel.
‘n Groot teleurstelling waarvan die organiseerders van die potjiekoskompetisie eers na afloop van die kompetisie uitgevind het is dat die beloofde borgskap van Vodacom van R10 000 wat deur die Expo organiseerders bevestig is (e-pos in hierdie verband is in besit van Die Kwêvoël), bestaan het uit ‘n paar branding-artikels van weinig waarde. Hieronder was onder andere rugbyballe vir elke wenspan, T-hemde, sambrele en kombersies. Die eerstepryswenners het darem ook baadjies, opvoustoele, pieknieksakke en toiletsakkies bygekry, alles met die Vodacom logo op. Dit wil dus meer lyk asof Vodacom die potjiekoskompetisie met advertensies wou skaak want op ‘n stadium het hulle daarop aangedring dat dit bekend moes staan as die Kwêvoël-Vodacom Potjiekoskompetisie. Die Vodacompryse is ‘n paar minute voor die aankondiging van die wenners by die stalletjie afgelaai en was met sierpapier toegemaak. Die organiseerders het dus nie geweet wat dit bevat nie. “Dit is teleurstellend dat ‘n groot firma soos dié met sulke foefies na vore kom”, het die organiseerder van die Potjiekoskompetisie, Pieter Coetzee gesê.
Die hoogtepunt van die dag se beoordeling was natuurlik Gerrie Pretorius wat as gasbeoordelaar opgetree het. Hy was duidelik baie gewild onder deelnemers sowel as feesgangers wat hom kort-kort vir ‘n foto kom steel het.