Boere moet brandpaaie voorberei
Hennie Pauw
THABAZIMBI – ‘n Minimum breedte van 2m vir brandpaaie is aanvaarbaar vir die Thabazimbiese Brandbeskermingsvereniging, is besluit op ‘n vergadering op 5 Mei.
Die Thabazimbiese Brandbeskermingsvereniging is tans aktief besig om, in samewerking met Rampbestuur van die Munisipaliteit en Working on Fire rolspelers, boere en kundiges te mobiliseer sodat goeie voorsorg teen brande getref kan word en gekoördineerde aksie kan plaasvind in geval van weghol-veldbrande.
Boere word aanbeveel om brandpaaie, oral langs die grensdrade van plase voor te berei. Dit kan gedoen word deur te skoffel, te skraap of te brand. Waar besluit word om te brand, moet dit gebeur in samewerking met die verteenwoordiger van die Brandbeskermingsvereniging, oftewel satellietleiers, in die spesifieke area en die bure.
Samewerking van bure vir die maak van voorbrande is van uiterste belang en dis wenslik dat bure wat een grenslyn deel op dieselfde dag brand. Dis ook belangrik dat satellietleiers besluite neem ten opsigte van gunstige weerstoestande vir die maak van voorbrande.
Dit is belangrik dat boere besef, selfs al is hulle nie lid van die Brandbeskermingsvereniging nie, brande nie onderskei nie en ‘n ongewenste vuur enigeen kan tref. Die ingeligte persoon en lid van die Brandbeskermingsvereniging is egter beter op hoogte van wie om te kontak, watter hulp bestaan en wat die wet bepaal. Beter voorsorg word meestal op hierdie lede se plase getref en om hierdie rede is lede beter beskerm teen eise wat teen hulle ingestel mag word.
Waar grensdrade oor onbegaanbare gebied, soos bergagtige terrein, loop moet ‘n brandpad op die hoogste moontlike begaanbare area geskraap word. Daar is nog onduidelikheid oor wie verantwoordelik is vir die voorbereiding van padreserwes teen brande. Hierdie kwessie sal deur Rampbestuur opgeneem word met die Paaiedepartemente.
Indien boere blokbrande wil doen, moet daar aansoek gedoen word by die Departement van Landbou. Meer inligting sal in volgende berigte verskyn.
Die magte van die Brandbeskermingsoffisier (Fire Protection Officer) van Thabazimbi, Johnny Motaung van die munisipaliteit se Beskermingsdienste, is gedelegeer aan satellietleiers. Dit sal satellietleiers in staat stel om beheer te neem wanneer onbeheerde veldbrande uitbreek, om die reëls van die Brandbeskermingsvereniging toe te pas en om inspeksies op lede se plase uit te voer.
Vir enige navrae kan die Brandbeskermingvereniging se skakelbeampte, Henry Ford, geskakel word op 072 472 5741. Satellietleiers vir die areas is Jan Viljoen (Sentrum) 083 325 6057, Phillip Nel (Rooiberg) 083 394 0140, Leon de Witt (Koedoeskop) 083 675 2289, Joggie van Bruggen (Northam) 082 335 6441, Meiring Prinsloo (Derdepoort) 076 605 9051, Jan Fourie (Cumberland) 082 927 9631, Gerhard Schuring (Leeupoort) 082 376 2775, Gert Gouws (Kromdraai) 082 415 6762, Leofwin Erasmus (Zimthabi) 014 772 2018 en Koos van der Merwe (Makoppa) 082 870 6592. Die Thabazimbi Brandweer se bystandnommer is 083 687 1883.