Ongerymdhede met aanbiedings vir boere bespreek
Elana Greyling
Groot ontevredenheid heers onder grondeienaars nadat dit geblyk het dat amptenare van die grondeise-kommisaris aanbiedinge aan grondeienaars maak wat ver onder die amptelike waardasies is. ‘n Vergadering is gehou tussen die Grondeise komitee, Agri SA en die TLU SA. Die gevoel bestaan dat die waardeerder onpartydig moet wees.
Die hoof grondeise-kommisaris, mnr Andrew Mphela, het opgetree as voorsitter van die vergadering. Hy het erken dat die verhouding met georganiseerde landbou vir hom belangrik is.
In sommige gevalle is grondeienaars gedwing om hierdie aanbiedinge te aanvaar. Agri SA het ‘n klagte by die Menseregte komitee hieroor aanhangig gemaak. Sodanige grondeienaars mag dalk sekondêre eise hê teen die staat.
Mphela het ontken dat dit ‘n beleid van die kommisariaat is. Hy het aangebied dat hierdie sake reggestel sal word en versoek dat die organisasies na hom terugkom met spesifieke klagtes.
‘n Versoek is gerig dat die proses van berekening van die aanbod meer deursigtig is, sodat grondeienaars weet waarvoor hulle aanbiedings ontvang.
Agri SA by monde van der Theo de Jager het hul kommer uitgespreek oor die verlies in voedselproduksie op plase wat aan eisers toegeken is. Die proses behoort nie produksie te bedreig nie. Agri SA het aangebied om nuwe boere by te staan en te ondersteun. Georganiseerde landbou word dikwels ingeroep om projekte te probeer red wat op die rand van mislukking staan. Die ideaal is dat georganiseerde landbou van die begin af by die projekte betrokke moet wees, voor totale verval ‘n reddingsaksie onmoontlik maak.
Die Grondeise kommissie en landbou organisasies verskil oor die periode wat dit mag neem om die proses af te handel. Die kommisaris het erken dat daar in Limpopo plase gegazette het, waarop geen eise is nie. Die proses verhinder dus in sommige gevalle die hele grondhervormingsproses. Die kommissie ondersoek ander maniere om die proses vinniger en suksesvol af te handel. In KZN word eisers oortuig om met minder grond tevrede te wees as wat geëis is.
In Gauteng, Noordwes en die Vrystaat is die meeste van die eise reeds afgehandel. Navorsingseenhede is aangewys om ondersoeke na die regmatigheid van eise te doen. Die mikpunt is om teen Junie 2009 die taak af te handel en dan daarna ‘n lys van geeisde eiendomme aan georganiseerde landbou beskikbaar te stel.
Die gevoel is dat kommunikasie verbeter moet word. Grondeienaars moet seker maak dat hulle bewus is van die waardasies en die manier waarop die aanbod bereken is, alvorens hulle optree. Hulp kan by georganiseerde landbou verkry word.