Ben Alberts Lodge

THABAZIMBI – Ben Alberts Lodge, slegs ‘n klipgooi van Thabazimbi, is ideaal vir ‘n naweek wegbreek. Die lodge is teenaan die 2500HA ou Ben Alberts Reservaat geleë waar die natuur jou omring en die klanke van voëls en wild ‘n rustige atmosfeer skep.
Die lodge word besit en beheer deur Sishen Iron Ore myn en streef om ‘n waardevolle bydrae tot toerisme industrie in Limpopo Provinsie te lewer.
Die lodge bied akkommodasie vir 32 persone met vier lodges om van te kies. Vir die groter groep familiebyeenkomste slaap die gewilde Kudu Lodge maksimum 10 persone. Dié lodge het vier chalets elk met sy eie badkamer. Die sentrale sit-, eetkamer, kroeg area en ten volle toegeruste kombuis het ‘n onderdak lapa en bouma braai area.
Njala en Gemsbok lodges is geskik vir gesinne wat vir die naweek wil wegbreek – ‘n huis weg van die huis. Die eenhede slaap elk 8 persone wat elk bestaan uit 3 slaapkamers, kombuis, sitkamer, badkamer en braai area.
Vir diegene wat bietjie privaatheid soek is Klipspringer die perfekte opsie. Dit bestaan uit 2 eenhede met eie badkamer, kombuis, sitkamer en slaap 6 persone. Die lodge is ten volle toegerus met breekgoed, beddegoed, DSTV en lugversorgers en ontbyt word op aanvraag bedien.
Tariewe wissel van R475 – R575 per nag vir 2 persone wat deel. Vir groepe wat die hele lodge bespreek word 10% afslag toegestaan. Verskeie boogjagpakette vir biltong- sowel as trofeejag word aangebied op die bosveldgedeelte wat verskeie wildspesies insluit. Vir die meer avontuurlustiges is daar ‘n gemerkte bergfietsroete wat jaarliks deur die deelnemers van die gewilde Hardekoolbergfietswedren gebruik word. Bring jou geliefde op die sundowner uitstappie en geniet ‘n glasie vonkelwyn vanuit ‘n hoë uitkykpunt, terwyl die bosveld met magiese sonsondergangkleure toegevou word. In die nabye toekoms sal wildsritte ook beskikbaar wees. Ander fasiliteite sluit in ‘n Aasvoël Restaurant waar aasvoëls ter aanskoue van besoekers gevoer word, Thabazimbi Gholfbaan vir gholfgeesdriftigers is loopafstand van die lodge, ‘n konferensiefasiliteit vir 40 persone op die terrein asook ‘n swembad en ontspanningsarea.
Vir verdere inligting kontak Bontle 014 777 1670 of 083 304 7239. Ben Alberts Lodge borg ‘n wegbreeknaweek vir 8 persone as wenprys vir Die Kwêvoël Wildspotjiekoskompetisie tydens die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo op Saterdag 2 Mei 2009.