Wiele rol vir KANSA Spinathon
THABAZIMBI – Na baie wik en weeg of die KANSA Spinathon by die Thabazimbi Expo gekanselleer moet word as gevolg van ‘n skynbare gebrek aan belangstelling, is daar die afgelope week besluit om wel met hierdie groot fondsinsamelingspoging vir KANSA voort te gaan.
Die swakker ekonomie speel waarskynlik die grootste rol in die gebrek aan belangstelling van beide die inskrywers en die borge se kant. Normaalweg word daar tussen R50 000 en R70 000 ingesamel vir KANSA tydens die Spinathon.
Daar is egter ‘n groot beroep gedoen die afgelope week op sportentoesiaste en minder geesdriftige (en minder fikse) fietsryers, sowel as besighede, myne en ander organisasies, om hierdie verdienstelike fondsinsamelingspoging te ondersteun en betrokke te raak .
Daar is besluit om nie die individuele sprintkompetisie aan te bied nie, maar slegs die spankompetisie waartydens spanne van vier meeding om te sien wie die langste afstand kan aflê in ‘n tyd van altesaam 20 minute. Elke spanlid moet 5 minute lank trap.
‘n Verskeidenheid van pryse kan tydens die Spinathon gewen word.
Die rasionaal agter die Spinathon is KANSA se onderskrywing van ‘n fikse en gesonde lewenstyl in die bestryding van kanker. KANSA, oftewel die nasionale kankervereniging, genereer fondse landwyd vir die ondersteuning van kankerpasiënte sowel as die voorkoming van kanker deur bewusmaking en vroeë opsporing.
Deelnemers het nog tyd tot Woensdag 29 April om te registreer. Inskrwyingsgelde vir skolierspanne is R300 en R500 per volwasse span. Die spinathon sal tussen 10:00 en 13:00 Saterdag 2 Mei plaasvind tydens die Thabazimbi Expo op Thaba Park. Deelnemers aan die Spinathon kry gratis toegang tot die Expo Saterdag.
Tydens die Spinathon kan diegene wat KANSA wil ondersteun, maar nie kans sien vir die oefenfietse van die Spinathon nie, hulle hare laat kleur. Dit werk veral goed vir die opsporing van kleuters wat geneig is om in die massas te verdwyn.
Vir enige verdere inligting kan Lize by 082 520 8455 of Veronica by 071 183 6227 geskakel word.