Sport

Sweef saam met die aasvoëls

Die groot storie, en sekerlik ook een van die gevaarlikste aksies, is om te sorg dat die vlerk ten volle ontplloi en vlieg voordat opgestyg kan word.
Die groot storie, en sekerlik ook een van die gevaarlikste aksies, is om te sorg dat die vlerk ten volle ontplloi en vlieg voordat opgestyg kan word.

THABAZIMBI – Die afgelope week was die lugruim bo Thabazimbi die ene aktiwiteit soos die skermsweeftuie al langs die berg op en af gevlieg het met die hoop om ‘n opwaartse lugstroom te kry.
Die geleentheid was die Nasionale Skermsweefkampioenskappe wat sedert Vrydag 10 April hier plaaslik aangebied word. More, Saterdag 18 April, sal die laaste kompetisievlugte plaasvind voor die uiteindelike uitslag later die dag by Thaba Nkwe bekend gemaak word.
‘n Totaal van 53 inskrywings is vir hierdie kompetisie ontvang. Saam met die families en ander helftes wat die deelnemers vergesel het was dit meer as 100 mense wat vir dié tydperk van die gasvryheid van Thabazimbi gebruik gemaak het. Heelwat van die deelnemers het hul tentjies kom opslaan terwyl ander eerder verkies het om van die meer gemakliker verblyfplekke gebruik te maak.
Thabazimbi se ligging naby aan die hoëveldstreek maak dit hierdie tyd van die jaar uiters geskik vir ‘n kompetisie soos hierdie en is dit ook een van drie plekke wat vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Skermsweefkampioenskappe geïdentifiseer is. Faktore wat in aanmerking geneem word is natuurlik dat daar ‘n berg moet wees waarvandaan die vlieërs gelanseer kan word, die dorp moet oor voldoende infrastruktuur beskik om die toename in besoekers te kan hanteer en daar moet darem so ‘n paar vermaaklikheidsplekke wees waar die deelnemers na ‘n dag van vlieg kan terugsit en ontspan.
Die nasionale kampioenskappe word drie keer per jaar aangebied. Gedurende Junie vind dit op Baberton plaas en gedurende Desember is Porterville in die Wes Kaap die aangewese plek.
Skermsweef, alhoewel dit ‘n avontuursport is, is nie net vir die avontuur-junkies nie maar is daar heelwat gevalle waar meer as een persoon in die familie saam vlieg. Pa en ma sal miskien tandem vlieg, waar die passasier aan die vlieënier vasgegespe word, en boetie vlieg met sy eie vlieër.
Om kompetisie te vlieg beteken nie dat jy sommer van die begin af hieraan mag deelneem nie. Aangesien dit ‘n redelike mate van vernuf vereis word die kompetisie dan ook in vyf klasse verdeel.
Die beginner of Novice klas is vir deelnemers met tussen 80 en 180 vlugte agter sy/haar naam. Hier gebruik hulle ‘n DHV1/2 vlieër wat meer stabiel is maar waar jy minder lugtyd het.
Die volgende klas is die intermediêre klas vir deelnemers met heelwat meer vliegondervinding. Hulle gebruik hier ‘n DHV1/2 vlieër met beter sweefvermoë en is ook vinniger terwyl dit steeds stabiele en vir oorlandse vlug geskik is.
Die sportklas is seker die gewildste en meeste deelnemers vlieg in hierdie klas. Die populêrste vlerk hier is die Sky Antea DHV2 met meer spoed en verbeterde sweefvermoë wat dit uitstekend maak vir oorlandse vlugte sonder om enige van die veiligheidskenmerke van afstand te doen.
Vir die vlieëniers wat die kompetisie ernstig opneem is daar die DHV2/3 klas. Dit is ‘n vinniger vlerk maar minder stabiele as enige van die vlieërs wat in die laer klasse gebruik word en bied dit ook beter penetrasie. Vir diegene wat gereeld aan internasionale kompetisies deelneem is daar die ope-klas wat die DH3 vlerk gebruik. Dit is egter net die hoogs ervare vlieëniers wat in hierdie klas vlieg.
Die vliegtoestande was nie elke dag ideaal soos mens dit wou gehad het nie.
Saterdag en Dinsdag se vlugte was die eerstes wat vir die kompetisie in aanmerking geneem is. Die kompetisie behels die vlieg van ‘n voorafbepaalde roete. Al die vlieëniers is met ‘n GPS toegerus wat elke paar sekondes ‘n lesing neem. Hierdie inligting word dan in ‘n rekenaar gevoer en die deelnemer se vlug word op die skerm uitgegooi. Deelnemers word ook net ‘n sekere vensterperiode gegee om in die lug te kom en die regte hoogte te bereik om seker te maak dat die roete voltooi kan word. Hierdie roetes wissel van 30km tot meer as 180km en kan beteken dat die vlieënier meer as vier ure in die lug deurbring.
Met behulp van die rekenaar word die wenner, met ander woorde, die persoon wat die spesifieke roete in die vinnigste tyd voltooi het, bepaal.
Daarby moet die deelnemer ook verseker dat hy lank genoeg in die 400m sirkel, wat as draaipunt op sy GPS ingevoer is, vertoef om vir sy GPS geleentheid te bied om ‘n lesing te neem.
Die kompetisies vind onder die wakende oog van die Suid-Afrikaanse Hang- en Skermvlieërs Vereniging (South African Hang gliding and Para gliding Association) plaas en baie streng veiligheidsmaatreëls word tydens die vlugte gehandhaaf.