Plaaslike gholfklubs help veg teen kanker
Plaaslike gholfklubs help veg teen kanker
THABAZIMBI – Vier plaaslike gholfklubs, Rooiberg, Amandelbult, Thabazimbi en Swartklip gaan oor die volgende drie maande elk ‘n kompetisie (formaat: individuele Stableford) hou as deel van die Sanlam Kankeruitdaging Klubkompetisie. Alle fondse wat ingesamel word, gaan aan KANSA.
Op Saterdag 25 April vind die eerste van die vier plaaslike kompetisies plaas by Rooiberg Gholfklub, op Saterdag 6 Junie by Amandelbult Gholfklub en op Saterdag 13 Junie by Thabazimbi Gholfklub. Nog geen datum is vasgestel vir die kompetisie op Swartklip nie.
Die doel van die gholfkompetisies is om ‘n gesamentlike poging tussen gholfspelers, gholfklubs, Sanlam en CANSA te loods waarin gepoog word om landswyd sowat R2,5 miljoen in te samel in die stryd teen kanker.
Dit is die 17de jaar wat hierdie gesamentlike poging aangewend word en verlede jaar was daar ook vier kompetisies in die Thabazimbi-area aangebied as deel van altesaam 771 Sanlam Kankeruitdaging-kompetisies landswyd. Verlede jaar is daar amper R2,3 miljoen ingesamel met altesaam 34 598 spelers wat deelgeneem het.
Inskrywingsfooie vir die kompetisie beloop R55 per persoon en pryse vir beide die mans- en vrouewenners in elke klubkompetisie is ‘n duffelsak (eerste plek), steakmes-en-vurkstel (tweede plek) en ‘n dubbelwynsak van leer vir die derde plek-wenner. Daar is ook ‘n lootjiewenner wat ‘n strandstoel kan wen en TaylorMade gholfballe vir die afslaanhou wat die naaste aan die vlag land.
Wenners van die klubkompetisie kwalifiseer vir ‘n streeksfinale in Augustus en die streekswenners kwalifiseer weer vir ‘n landswye finale by San Lameer Country Club aan die KwaZulu-Natalse suidkus. Sertifikate word later in die jaar oorhandig aan die klubs in elke streek wat die meeste geld ingesamel het.
Die tema van vanjaar se Sanlam Kankeruitdaging is gesondheid onder mans, sê Sue Janse van Rensburg, nasionale uitvoerende direkteur van KANSA. Hiermee beoog hulle om beter bewussyn te kweek van die mees algemene kankers onder mans. Volgens haar veroorsaak longkanker die dood van amper 5 000 mans jaarliks. Vel- en prostaatkanker kom ook algemeen onder mans voor. Testikulêre kanker is nie so algemeen nie, maar dit kom meer onder jonger mans voor. Die belangrikste, sê Janse van Rensburg, is egter dat vroeë opsporing in ‘n groot kans op herstel bied.
Na afloop van elke plaaslike gholfkompetisie vind daar ‘n wildveiling plaas en spelers word versoek om nie hul beursies en tjekboeke by die huis te los nie. Alle bydraes is ten bate van KANSA. Verlede jaar is ‘n verskeidenheid van wild, soos blouwildebeeste, rooibokke en vlakvarke opgeveil. Enigeen wat wild wil skenk vir dié goeie doel kan die organiseerder by Sanlam, Linda Prinsloo, by 014 772 3066 X4 of 082 416 8059 skakel.
Enigeen wat belangstel om aan die eerste van die vier Sanlam Kankeruitdaging Klubkompetisies, by Rooiberg, deel te neem, kan die Rooiberg Gholfklub skakel by 014 734 1725.
Volgens Linda Prinsloo, die plaaslike organiseerder van die Sanlan Kankeruitdaging Klubkompetisie, is dit Sanlam se doel om by die gemeenskap betrokke te raak en sodoende kliënte se portefeuljes of testamente te hersien, finansiële beplanning te help doen asook konsolidasies aan te beveel. Sanlam se adviseurs help ook die sake-ondernemers om hul besighede se testamente in plek te kry.
Sy sê hulle besef dat, met die marktoestande en stygende lewenskoste, daar drasties na finansiële beplanning gekyk moet word om die beste vir elke individu vir die toekoms te bewerkstellig. Die Sanlam-adviseurs bied hierdie dienste gratis.