General

Trap vir kanker by Expo

Die spankompetisie vir hierdie jaar se Spinathon vind plaas op Saterdagoggend 2 Mei tussen 09:00 en 14:00.
Die spankompetisie vir hierdie jaar se Spinathon vind plaas op Saterdagoggend 2 Mei tussen 09:00 en 14:00.

THABAZIMBI – Die vierde agtereenvolgende KANSA/CANSA Spinathon word vanjaar by die Expo aangebied op Saterdag 2 Mei.
Hierdie opwindende item op die Expo-program lok spanne van die hele kontrei wat hul vereenselwig met die doelwitte van KANSA (Kankervereniging van Suid-Afrika) wat geld insamel vir die versorging van kankerpasiënte sowel as die voorkoming van kanker onder die publiek deur bewusmakingsveldtogte. Die Spinathon-projek dra die basiese boodskap uit dat ‘n gesonde lewenstyl, soos deur die beoefening van sport, onderskryf word in die bestryding van kanker.
Twee kompetisies word aangebied tydens die Spinathon, naamlik ‘n span- en ‘n individuele of sprintkompetisie. Tydens die spankompetisie sal die vier lede van ‘n span elkeen 5 minute agtereenvolgens op ‘n oefenfiets trap en die totale afstand van die span na 20 minute bepaal word. Die span wat die meeste kilometers afgelê het in ‘n besondere kategorie, wen. Tydens die sprintkompetisie ding individue teen mekaar mee en word die wenner bepaal deur diegene wat die hoogste topspoed vir 3 sekondes kan handhaaf.
Die spankompetisie vind plaas Saterdagoggend van die Expo tussen 09:00 en 14:00 en die sprintkompetisie om 14:00.
Die inskrywingsfooie vir spanne is R500 per volwasse span en R300 per skolierspan.
Baie pryse is op die spel in al die kategorieë. Meer is hieroor bekend in volgende berigte oor die Spinathon.
Tydens die Spinathon sal Expo-gangers ook hul hare kan laat kleur teen ‘n koste van R5 tot R10. Die “Spray and Shavathon” is ‘n handelsmerk van KANSA, wat hierdie projek van stapel gestuur het ter ondersteuning van mense wat hul hare tydens chemo-behandelings verloor.
Vir enige verdere navrae, asook donasies en inskrywings, kan Lize  by 082 520 8455 of Veronica by 071 183 6227 geskakel word. Daar word gepoog om inskrywings en donasies voor 25 April te finaliseer.