General

Padblokkades – ken jou reg

Met die vele langnaweke en vakansiedae wat op ons deur staan, dink ons veel eerder aan die tydjie weg van die huis, as die dinge wat oppad na ons bestemming kan gebeur. Die intimiderende toneel van ‘n padblokkade met flitsende blouligte en ‘n verkeersbeampte wat met ‘n flits in jou gesig aandring op jou geldige rybewys is vir sommige skrikwekkend, vir ‘n padverbruiker sonder ‘n rybewys kan dit in ‘n nagmerrie ontaard.
Maak dus seker dat jy altyd jou bestuurderslisensie by jou het en dat die lisensie vir jou voertuig geldig is.
Wanneer jy ‘n padblokkade nader, maak jou venster ietwat oop en wag vir die beampte om sy stelling te maak of om sy vraag te vra. Indien hy slegs ‘n kort verduideliking gee vir die padblokkade en vra om jou lisensie te sien, hou dit gereed vir hom. Indien hy ander vrae vra, kan jy vriendelik weier om saam te gesels, jou lisensie terug vra en vra of jy mag ry. Jy hoef nie met die verkeersbeampte in ‘n gesprek betrokke te raak nie.
Volgens die wet mag die beamptes by ‘n padblokkade nie jou voertuig deursoek sonder grondige redes dat jy moontlik ‘n misdaad gepleeg het nie. Hul mag jou toestemming vra om dit te deursoek, wat beteken hulle het nie wetlike grond om die soektog te forseer nie, terwyl jy op jou reg tot privaatheid kan aandring.
Enige verbale of fisiese intimidasie kan na die Ombudsman verwys word. Bly altyd kalm in so ‘n situasie en verkry die naam en rang van die beampte asook die polisiestasie of area waar die beampte gestasioneer is.
Die vele arrestasies wat deesdae deur die metro polisie gemaak word wanneer ‘n padverbruiker by hul padblokkade gestop word, en hul vind dat daar uitstaande verkeersboetes is op sy naam, maak menige padverbruikers angstig, maar mag jy volgens wet gearresteer word?
Volgens die Traffic Alert webwerf, http://www.trafficalert.co.za/know_your_rights.htm, mag jy slegs gearresteer word indien:
1) Die polisie die oorspronklike lasbrief vir jou arrestasie het. 2) Hulle moet kan bewys dat jy die dagvaardiging vir die uitstaande verkeersboete persoonlik ontvang het. 3) As hulle dit nie kan toon nie, is die arrestasie onwettig. Dan mag jy weier om saam te gaan. As hulle jou steeds arresteer, moet jy hul inlig dat jy ‘n saak gaan maak teen hulle vir onwettige arrestasie. Probeer alles onthou wat daar aan jou gesê word en die gebeure daarna in chronologiese volgorde.
5) Tegnies gesproke, indien die arrestasie onwettig is, word die afneem van jou voertuig en bestuur daarvan terwyl jy in aanhouding is, as diefstal gesien.
6) Wanneer jy vrygelaat word, gaan dadelik na die SAPS en maak ‘n saak teen die arresterende outoriteit en toepaslike beamptes.
Indien die arrestasie onwettig was, kan jy skadevergoeding eis, kontak dus ‘n prokureur in hierdie verband. Indien jy ‘n klag teen die arresterende beampte wil lê, kan die SAPS ombudsman gekontak word, besonderhede kan by die SAPS se webwerf, www.saps.gov.org verkry word. Laasgenoemde opsie gee egter geen finansiële vergoeding.
Vir meer inligting besoek www.saps.gov.org en http://www.trafficalert.co.za/know_your_rights.htm.