Sport

Marken se 4 x 4 en marathon pret dag is weer hier

MARKEN – Marken Boerevereniging (BV),nooi almal uit om die Marken BV Pretdag op 18 April by te woon. Volgens mnr Neels Hennop, voorsitter van die Marken BV het hulle wonderlike reën ontvang wat die gebied in ‘n bosveld paradys omskep het.
Die dag begin met ‘n heerlike vroeg oggend marathon. Skryf in vir ‘n flinke 5km of ‘n fikse 15 km of vir ‘n dappere 32 km wat gemaklik tussen inheemse bosveld bome kronkel. Medaljes gaan uitgedeel word aan almal wat die marathon voltooi. Vir die wenners is daar kontantpryse op die spel.
Besoekers word uitgedaag om te probeer om die 4×4 baan te bemeester. Inskrywings beloop R 150 per voertuig. Die bosveldboere weet hoe om 4 x 4 voertuie besig te hou en tot die uiterste te beproef.Besoekers word verseker dat hulle heeldag vermaak sal word en dat daar natuurlik die aller lekkerste etes beskikbaar sal wees. Kos – beslis waarvoor Marken bekend is.
Die vol dag sluit af met ‘n marathon dans en ete. Terwyl dit Saterdagaand is, word die fikses en minder fikses uitgenooi om die dans by te woon. Stoele sal beskikbaar wees indien die minder fikses ‘n oomblik of twee wil rus.
Gerhard Visser, voorsitter van die Koedoesrand Distrik Landbou Unie (DLU)  het gesê dat die dag ten volle ondersteun word. Hy het gesê dat daar uitgesien word om besoekers van oral oor te ontvang.
So ‘n dag is werklik ‘n genotvolle gesinsdag en veral mense wat in dorpe en stede woonagtig is, kan die dag gebruik om hulself te geniet en om familiebande te versterk. Die vars Marken bosveld lug is net wat nodig is om dit wat belangrik is, te bevestig.