Jabulani – Immergroen Hengelkompetisie
THABAZIMBI – Hengelaars het vanaf 05:00 op Saterdag 4 April by Jabulani se hek ingestroom – almal op soek na ‘n heerlike ontspanne dag en dalk die grote wat nie sal wegkom nie – alles ten bate van Huis Immergroen in Thabazimbi.
Huis Immergroen is ‘n inisiatief van die Thabazimbi Bejaardesorg Trust onder leiding van die vier Gereformeerde Kerke in die dorp om vir hul bejaardes huisvesting te voorsien.
Altesaam 35 penne is getrek vir die kompetisie – ‘n maksimum van 3 hengelaars met 2 stokke elk kon by elke pen hengel.
Die kompetisie het om 07:00 begin en tot 15:00 geduur. Vanaf 15:30 is die babers, karpe en kurpers ingeweeg waarna die prysuitdeling plaasgevind het. Na die amptelike prysuitdeling was daar ook ‘n gelukstrekking waar persone wie se name getrek is, ‘n prys kon uitkies! Baie, baie dankie aan almal wat vir ons pryse geborg en beskikbaar gestel het!
Die swaarste karp – 5.72 kg – is deur Kobus Smit uitgetrek – sy prys is ‘n naweek vir 6 mense by Jabulani Lodge. Tweede was Willem Heydenrich met ‘n karp van 5.58kg.
Die swaarste baber (3.72kg) het vir Ben Pieterse ‘n splinternuwe CBF600 katrol besorg. Peet Dique was hier tweede met ‘n baber van 3.68kg.
Die swaarste kurper is deur Riaan van Rensburg aan wal gebring – 1.10kg – wat ook ‘n CBF600 katrol gewen het. Die tweede swaarste kurper (1.079kg) is deur Danie du Plessis gevang.
Die swaarste sak met al drie kompetisie-spesies is deur die span van Jaco Smit ingeweeg – ‘n formidabele 76kg vis.
Daar het ongewone spesies ook uit die water gekom. Dave Rivers het ‘n waterskilpad van 0.738kg gevang en Jan Beukes het ‘n blinde karp uitgetrek!
Nicolene Heydenrich het as enkel dame die swaarste sak ingeweeg.
Natuurlik was daar ook ‘n toekenning aan die span wat die minste visse in die sak gehad het … hulle het gedink dit is die swaarste span wat in aanmerking kom vir die pryse!
Na die prystrekkings was daar ‘n veiling waar 5 rooibokke en ‘n reuse bottel brandewyn opgeveil is. Baie dankie aan die skenkers en die kopers!
Van die reëlingskomitee se kant ‘n woord van hartlike dank aan komiteelid oom Dawie Snyman vir die beskikbaarstelling van Jabulani.
Buiten die inskrywingsgeld het die feiling na afloop van die hengelkompetisie ‘n verdere R13 000 opgelewer wat die hele poging vir Huis Immergroen op R36 504 te staan gebring het. Dankie aan almal wat meegewerk het en deelgeneem het aan ‘n baie suksesvolle hengeldag!
Op Saterdag 31 Oktober 2009 kan die hengelaars ook maar hul hengelgerei reg hou, dan maak hulle weer so.