Rentekoersdaling welkome nuus vir landbou
Johan Pienaar, Adjunk Uitvoerende Direkteur Agri SA
Die aankondiging van Mnr Tito Mboweni, Goewerneur van die Reserwebank dat rentekoerse met 1 persentasiepunt op 25 Maart 2009 daal, was ook vir die landbou welkome nuus. Mnr Mboweni het die aankondiging gemotiveer aan die hand van verwagte dalings in die
inflasiekoers, die afkoeling van die ekonomie en die noodsaak om die ekonomie matig te
stimuleer. Die skuldlas van die landbou het in 2008 na raming ongeveer R47 miljard beloop wat beteken dat ‘n rentekoers daling van 1 persentasiepunt ‘n jaarlikse kostebesparing en selfs meer belangrik, ‘n kontantvloeibesparing van R470 miljoen meebring.
Uiteraard impliseer dit ook ‘n besparing op die finansiering van produksie soos produksiekrediet. Dit verlaag eweneens ook die risikoblootstelling van finansierders aan die landbou.
Mnr Mboweni het ook gewag gemaak van die strenger uitleenkriteria wat tans deur banke gevolg word. Dit behoort egter min impak op die landbou uit te oefen. Die risikoprofiel van die landbou het immers kwalik verander in die afgelope jaar. Boere behoort derhalwe nie sonder meer swakker kredietvoorwaardes te aanvaar nie.