Noue ontkoming vir ERA agente
THABAZIMBI – Vyfuur Saterdag oggend, die son het nog nie sy kop uitgesteek oor die Waterberge nie, dit was nog nag-donker, toe het die span van ERA Eiendomme al hul tafel opgeslaan tussen die wilde diere van Marakele Nasionale park. Twee gewapende wagte moes deurentyd wagstaan om die agente en atlete te beskerm. Vroegdag is hul gewaarsku dat verskeie olifante naby die roete gesien is en dat almal paraat moet wees. Die bobbejane se gekoggel het bygedra tot die gevoel van opwinding wat almal met onrus na die bosse laat kyk het. Dit was weereens ‘n voorreg om deel te wees van die unieke Marakele Marathon wat jaarliks aangebied word. Daar het ‘n atmosfeer van opgewondenheid geheers onder al die deelnemers en beamptes. Dis ‘n ongelooflike ervaring om ‘n dag in die park deur te bring saam met die atlete wat in so ‘n goeie gees hierdie tawwe roete kafdraf. Die ERA agente kon nie besluit wat was hul grootste noue ontkoming nie, die feit dat hul gespaar was om nie daardie stywe opdraendes uit te hardloop nie, of die geluk dat geen gevaarlike diere wou kom deel in hul ontbyt nie…