General

Kat met haelgeweer geskiet

THABAZIMBI – ‘n Kat wat Sondagaand 29 Maart ongeveer 21:00 met ‘n haelgeweer geskiet is in Thabazimbi moes laataand deur ‘n veearts uitgesit word omdat dit nie moontlik sou wees om sy lewe te red nie.
Die kat, Sylvester, se eienares Marlene Clarke, wat tuisgaan op die hoek van Sesde en Frikkie Meyerlaan, sê hulle het net na 21:00 ‘n geweldige skoot gehoor en kort daarna gesien dat die kat bloei en mank loop.
Toe hulle die kat van nader ondersoek het hulle gevind dat een van die agterbene heeltemal verbrysel is. Die veeartse na wie die kat onmiddellik geneem is, het bepaal dat dit deur ‘n haelgeweer skuins van voor of skuins van agter geskiet is. Die ingewande was so erg beskadig dat daar besluit is om die kat van sy lyding te verlos en uit te sit.
Die polisie is van die voorval in kennis gestel en hulle het teen 22:30 Sondagaand by die huis van die Clarkes opgedaag om die saak te ondersoek nadat daar vroeër die aand nie ‘n voertuig beskikbaar was nie. Hulle het ‘n verklaring geneem, maar volgens Marlene Clarke was daar teen gisteroggend (Donderdag)nog niemand van die polisie by haar om die saak te ondersoek nie.
Clarke sê sy kan nie verstaan dat mense in hegtenis geneem word op aanklagte van die rig van ‘n vuurwapen, maar wanneer ‘n vuurwapen afgevuur word, is die polisie traag om op te tree.
Die polisie sê dat daar wel ‘n saak geopen is van opsetlike saakbeskadiging en dat die saak ondersoek sal word. ‘n Saak van wreedheid teenoor diere sal nie in hierdie geval geopen word nie, waarskynlik omdat die bedoeling was om die kat dood te skiet en nie om dit te beseer nie.
Volgens die polisie bepaal wetgewing dat geen vuurwapens in geboude gebiede afgevuur mag word tensy iemand se lewe bedreig word nie. Waar ‘n hoender, vark of hond op iemand se eiendom is en skade aanrig mag hulle doodgemaak word. Ander diere moet gevang word en aangehou word totdat die eienaar dit opeis. Dan is die perseelbewoner geregtig om geld te vra van die eienaar vir die versorging van die dier. Indien ‘n dier nie opgeëis word binne twee weke nie, kan die dier na die skut geneem word.
Die gevoel uit verskillende oorde is egter dat ‘n geval soos hierdie waar ‘n kat met ‘n haelgeweer geskiet is, ‘n saak is vir die Dierebeskermingsvereniging en dat daar groot nood vir so ‘n organisasie in Thabazimbi bestaan.