Groot verlies vir Thabazimbi
THABAZIMBI – Sarel Buitendag, beter bekend as “ou Oom Wolf” is op Maandag 30 Maart 2009 oorlede.
Wolf, ‘n wel bekende leiersfiguur, het in 1971 na Thabazimbi verhuis. Hy begin werk by Thabazimbi Stadsraad as ‘n verkeersbeampte. Daarna begin hy by Iscor as Hoof van Veiligheid waar hy jare lank gewerk het. Na ‘n retoer trek na Kempton Park waar hy as Hoof van Administrasie in diens was, keer hy terug na Thabazimbi se Verkeersdepartement waar hy as Hoof van Verkeer, toets van lisensies en beskermingsdienste sy deel aan die gemeenskap gebring het. Hy word onthou as ‘n streng en ferm dog vriendelike mens.
Wolf, as oud inwoner van Thabazimbi, was altyd ‘n steunpilaar in die gemeenskap. Hy begin die roofvoël rehabilitasie sentrum sowel as die Aasvoël Restaurant wat in die vroeër jare van Thabazimbi se bestaan gestig is.Wolf het in baie mense se harte gekruip en ‘n groot verskil in hul lewe gemaak. Hy was ook bekend vir die vuurwapen opleiding maar ook vir leiding wat hy gebied het in alle aspekte van die lewe.
Volgens sy familie was hy die beste man, pa, skoonpa en oupa in die wêreld. Hy het sy lewe ten volle uitgeleef en sy volle potensiaal bereik. Hy was sy gesin se steunpilaar en het met liefde sy vaderlike pligte nagekom. Hy laat sy vrou, drie kinders, twee aangetroude kinders en 5 kleinkinders agter.
Sy begrafnisdiens sal op Vrydag 3 April om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk deur ds Kalfie Loots waargeneem word, almal is welkom om die diens by te woon.
“Wolf ons gaan jou mis in die gemeenskap van Thabazimbi, maar jou legende sal altyd voortleef.”