Thaba staan voor groot wateruitdaging
THABAZIMBI – Die toekomstige waterbehoeftes van die dorp, besproeiingsboere, myne, die steenkool-kragsentrales en moontlik Sasol, asook verwagte dorpsontwikkeling in Lephalale en Thabazimbi stel ongelooflike hoë eise aan die owerhede om alle gebruikers in die westelike Waterbergdistrik van water te voorsien in die volgende aantal jare.
Die kwessie op almal se lippe tans is die beoogde aanvraag van tot soveel as 230 miljoen kubieke meter water per jaar aan die steenkoolkragsentrales en Sasol wat tans ontwikkel word in Lephalale en Steenbokpan. En dit terwyl dit tans lyk of daar nie eers genoeg water is om in ons huidige behoefte te voorsien nie.
Tydens ‘n vergadering tussen Waterwese, omgewingskonsultante en boere in Januarie blyk dit dat daar beplan word om ‘n keerwal op te rig in die Krokodilrivier tussen Koedoeskop en Makoppa, asook ‘n dam in die Steenbokpan-area, die aanlê van twee pypleidings, een met ‘n 2m-deursnee vanaf die Thabazimbi keerwal na Lephalale/Steenbokpan en ‘n addisionele pyp van die Mokolodam na Lephalale.
Die vergrote aanvraag sal moontlik later aangevul word deur water van die Lesotho Hoogland-projek wat aan Gauteng voorsien sal word en die verhoogde afloop sal in die Krokodil gekanaliseer word.
By ‘n Waterbeplanningsforum die afgelope week wat deur die Thabazimbi Munisipaliteit aangebied is, blyk dit dat hierdie ‘n reuse-uitdaging is waarby alle rolspelers, tot elke individu in die dorp, die munisipaliteit en alle groot waterverbruikers betrokke sal wees.
In ‘n poging om alle betrokkenes bymekaar te bring om hierdie kwessie te bespreek, word daar beoog om later vanjaar ‘n Waterberaad te hou in Thabazimbi, soortgelyk aan die een wat verlede jaar in Lephalale gehou is.
Uit bydraes by hierdie vergadering blyk dit dat baie sake in plek sal moet kom om kwessies van watergebruik effektief en prakties op te los. Selfs klein besparings deur dorpsgebruikers soos die stopsit van lekkende toilette en pype kan ‘n groot rol speel. Die wanbetaling van watergebruikers moet stopgesit word en die munisipaliteit, myne en boere moet die presiese huidige gebruik en toekomstige behoefte bepaal.
Volgens Cornelius Booysen, Tegniese Bestuurder by die Thabazimbi Munisipaliteit, kan daar tans nie voortgegaan word met Anglo Plats-dorpsontwikkelings in Northam nie, totdat uitsluitsel gekry word oor die watervoorsiening, asook die ontwikkeling van ‘n rioolplaas in die plek van die bestaande oksidasiedamme. Volgens hom is dit belangrik dat almal bydraes lewer tot die ontwikkeling van infrastruktuur en dat niemand daarby baat as die ontwikkeling nie voortgaan nie.