Paragliders maak gereed vir langnaweek

THABAZIMBI – Die Paragliding Nasionale Kompetisie wat op 16 – 19 Maart 2009 aangebied sou word, is na 10 – 18 April 2009 verskuif.
‘n Lugruimbeperking vir alle nie-geskeduleerde vlugte binne ‘n radius van 50Nm JSV, Rustenburg/Pilansberg PNV en Polokwane PVV is effektief vanaf 16 – 19 Maart 2009. Hierdie oefening is deur die owerhede in plek gestel om te verseker dat die lugruim bokant die sokkerstadiums wel “skoongehou” kan word tydens die Wêreld Sokker Beker in 2010.
Dit beteken dat die beperkte lugruim net agter die Thabazimbi opstyg gebied sal eindig en alle suidwaartse skermsweef vlugte sal belemmer. Die oorhoofse windrigting vir Thabazimbi is noord, so dit sal die moontlike take vir die kompetisie grootliks beïnvloed.
Die organiseerders van die kompetisie en SAHPA het dus besluit dat dit beter sal wees om die kompetisie na 10-18 April 2009 aan te skuif.
Die goeie nuus is dat die nuwe datums deelnemers drie ekstra vliegdae tydens die kompetisie gee en ook deelnemers kan akkommodeer wat beperkte tyd oor die langnaweek het.
Kontak Walter Neser by 0765939849 of besoek www.flythaba.com om in te skryf vir die kompetisie of vir verdere navrae.