Forensiese oudit oor kunsmis
Na aanleiding van baie vrae in boere se gemoed oor die korrektheid en billikheid van die dramatiese styging in kunsmispryse het TLU SA besluit om ‘n forensiese ondersoek te laat doen oor die prysvasstelling binne die kunsmisbedryf om daardeur te verseker dat dié prysvasstelling deursigtig geskied en dat daar nie enige onreëlmatige tot nadeel van die boer plaasvind nie.
Kunsmis se bydrae tot die insetkoste van ‘n graanboer kan afhangende die omgewing en ander faktore tot so hoog as 47% wees. Dit is derhalwe die moeite werd om te verseker dat die bedrag wat vir kunsmis betaal word wel billik en korrek is.
TLU SA wil geensins sinspeel dat daar noodwendig fout is met die kunsmisbedryf nie. Sodanige ondersoek kan moontlik uitwys dat daar nie foute is nie. Die feit dat daar al deur ander instansies so lank terug as 2002 skrywes aan die Mededingingskommissie geskryf is in die verband en wat reeds gedurende Junie 2008 ook deur TLU SA gedoen is en daar nie enige reaksie na vore kom nie, maak die onsekerheid net nog groter. Die Mededingingskommissie sal met hulle ondersoek kyk na pryssamespanning en is ons gevoel dat ‘n forensiese ondersoek veel wyer as dit sal strek.
Ten einde hierdie ondersoek van stapel te stuur word ‘n bedrag van R550 000 benodig. Dit is in elke boer se belang dat hierdie aangeleentheid deursigtig gemaak word. Op hierdie stadium is ‘n bedrag van ongeveer R120 000 reeds inbetaal.
TLU SA versoek hul lede dringend om bydraes in die verband te maak. As 800 boere elk ‘n R500 bydrae tot hierdie ondersoekfonds maak, sal dit die totale koste kan dek. Slegs enkele boere het na vore getree en sover ‘n bydrae gemaak. Indien die fondse nie verkry kan word nie sal die ondersoek nie van stapel gestuur word nie en sal die onsekerheid bly voortbestaan. U bydrae kan ‘n druppel in die emmer wees vir die versekering dat u nie te na gekom word nie.
Vir inbetaal reëlings word u versoek om vir Ute by die TLU SA hoofkantoor te kontak om die nodige reëlings te tref. Haar kontak besonderhede is: 012 – 804 8031 of fin@tlu.co.za.