General

Bosveld Akademie hou “geskiedenis”

THABAZIMBI – Op 27 Februarie 2009, 128 jaar nadat die slag van Majuba plaasgevind het, is die gebeure van daardie besondere Sondagmore plaaslik by Bosveld Akademie herdenk en behoorlik gevier.
Die Slag van Majuba is naas die Slag van Bloedrivier die roemrykste in die Afrikaner-geskiedenis. Dit het plaasgevind in 1881 tydens die Eerste Vryheidsoorlog. Brittanje annekseer die ZAR in 1877. Na verskeie pogings om die vryheid van die ZAR deur onderhandelinge te herwin, kom die burgers van die ZAR op 13 Desember 1880 by Paardekraal, Krugersdorp bymekaar en besluit om self weer ‘n eie regering saam te stel.
Generaal GP Colley, Britse Luitenant Generaal van Natal en opperbevelhebber van alle Britse magte in Suid-Oos Afrika probeer met versterkings uit Natal deurbreek om Transvaal te ontset. Die Boere stuit hom by Laingsnek en weer by Zngaja (Schuinsdrift). Generaal GP Colley het ‘n strategiese spitskop in Natal gedurende die nag van 26 Februarie 1881 beset. Generaal Piet Joubert se manne ontdek dit eers die volgende oggend – eintlik het Joubert se vrou dit eerste opgemerk. Die Boere het geen keuse gehad nie – die Engelse moes afgehaal word. Tydens hierdie slag openbaar die Boere instinktief sekere millitêre strategieë, byvoorbeeld vuur in beweging en die gebruik van dooie grond. In die proses word Colley noodlottig gewond en die Engelse word vernederend verslaan. Die “rock spiders”, soos die Engelse na die Boere verwys het, het getoon dat hulle oor buitengewone oorlogsvernuf beskik en nie onderskat moet word nie. In die vredesonderhandelinge wat volg, verkry die ZAR weer hulle onafhanklikheid.
‘n Program wat die hele skool ingesluit het, het volgens die organiseerders ‘n warm gevoel om die hart gevorm. Die hele program het ten doel gehad om die teenwoordiges dankbaar te stem vir dit wat die Here vir die Afrikanervolk doen en ook bied in ons land, Suid-Afrika. Janse Boshoff se weergawe van “Lief vir alles hier” het dus elkeen se gevoel in musiek en liriek saamgevat.
Die Meerkatjies se vertelling van die Hasie wat koliek is, het jou laat wonder of die Engelse dalk ook op hom aangelê het. Die leerlinge van Gr 1 tot 3 het ‘n paar tradisionele liedjies gesing.
Jan Trichardt het die feite rondom die aanloop tot die Slag van Majuba en die spesifieke gebeure verfris.‘n Gedramatiseerde voordrag van “Vrou en Kind” deur die leerlinge van Gr 4-7, het almal diep onder die indruk van die intensiteit van so ‘n veldslag gebring.
Op ligter trant het die Gr 8-12’s gewys hoe vernuftig hulle ‘n Kadriel en die Sonskynwals kan dans. Hierdie danse is vanuit die Stamlande oorgeneem en is by feesgeleenthede soos troues en Nuwejaarsdanse gedans.
Die aand het in ligte laaie geëindig met ‘n (modderige) fakkelloop rondom Bosveld Akademie se nuwe rugbyveld. Saterdag het dit gelyk asof die stryd tussen die Boere en die Engelse van voor af geveg is, toe die verskillende boeresportspanne mekaar die stryd aangesê het. Kussinggevegte, bokdrolletjiespoeg, sakresies, driebeenresies en vele ander speletjies het vir hope vermaak gesorg.
Aan die einde van ‘n genoeglike naweek was daar in elkeen se hart ‘n stem wat sê:  “Wees gerus, of gewaarsku, – hier is weer ‘n magtige dreuning op pad – die dreuning van kinders wat ‘n liefde het vir waar hulle vandaan kom, wie hulle is, en waarheen hulle op pad is.”