Kuier Dag by WESenterprises
THABAZIMBI- WESenterprises groep het op 19, 20 en 21 Februarie al hul Boere-Kliënte van Thabazimbi en omgewing uitgenooi vir ‘n rustige en informele inligtingsdag en kuier geleentheid op hul perseel.
WES het ook verskaffers genader om te kom uitstal vir die dae om sodoende hul heel nuutste goedere aan Thabazimbi se Boere te kon bekendstel. Op Donderdag 19 Februarie het ARGO hul nuutste Landini en McCormick Trekker reeks bekend gestel en gedemonstreer op die plaas Haakdoringdrift van Mnr Jan du Buys. Dit was ‘n belewenis om die uitstaande werkverrrigting en doeltreffendheid van hierdie Europees-ontwerpte trekkers te aanskou. Almal wat die demonstrasie bygewoon het, het die geleentheid gekry om hierdie toerusting uit te toets, sowel as die Kverneland implemente wat bygedra het tot die sukses van die dag.
Vrydag en Saterdag se opedae was rustig en die boere en hul families is met hul aankoms bederf met komplimentêre eet en drink goed geborg deur WES. Die etes is voorberei deur die Hervormde Kerk se dames en jeug groep en drankies is voorgesit deur die Helpende Hande saam met TOPS , wat hierdie geleentheid gebruik het vir fondsinsameling.
Penguin Pools het gesorg vir ‘n pragtige uitstalling en die “plaaskinders” het
hulself vreeslik geniet in die spa en ander water speletjies. Die plaas diere
by die “Petting Zoo” het ook baie aandag geniet.
Vrydagaand is afgesluit met ‘n tipiese BOSVELD Harde Hout Braai, en Rugby op die grootskerm geborg deur Eltec, spesifiek vir uitstallers wat van die stede gekom het.
Saterdag 21 Februarie was daar nog verdere demonstrasies en Gerhard Niehaus, WESagri se bestuurder het vir opwinding gesorg toe hy sommer WES se netwerk en telefoonkabel met een van die kragtige Landini trekkers uitgeploeg het. Die konsep van KYK ‘n KUIER by WES gaan voortaan elke jaar vir die Thabazimbi boere aangebied word.