Die gewilde “verkleur”-musikant weer by KunsteGrot
THABAZIMBI – Met die groot sukses van die Grafsteensangers op 7 Februarie, is die KunsteGrot alreeds doenig met reëlings vir die volgende musikant.
Chris Chameleon, SA se fenomeen op die musiekfront, besoek die KunsteGrot weereens op 20 Maart, nadat hy verlede jaar heerlik saam met die inwoners gekuier het en gevra het om weer hier besoek af te lê.
Chris het verlede jaar in Oktober/November ‘n baie suksesvolle toer in Nederland, België en London gedoen waar hy in die mees bekende teaters opgetree het waarvan meeste van die vertonings uitverkoop was.
Sy vier-oktaaf stemwerk en dinamiese verhoogpersoonlikheid het hom oor ‘n tydperk van drie jaar al 14 toekennings in die sak gebring, insluitend ‘n SAMA (South African Music Award). Kom ondersteun die talentvolle kunstenaar, kaartjies is reeds beskikbaar.
Op 16 Mei is dit Die Melktertkommissie se beurt. Omkring solank die datum. Besprekings word vanaf einde Februarie geneem. Vir navrae en besprekings skakel Rita Volschenk by 083 7448559.