TLU – SA NOORD
EUROGAP, WATERBESOEDELING EN CHOLERA
Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het lede aangemoedig om streng Fito Sanitêre maatreëls plus streng higiëne moet toepas om seker te maak dat Eurogab akkreditasie nie in gedrang kom nie.
Mnr. Fritz Ahrens, voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging het gesê dat elke landbouer wat aan die Eurogap akkreditasie wil voldoen, ‘n beëdigde verklaring moet aflê waarin verklaar word dat daardie boerdery onder geen omstandighede van riool of besoedelde water gebruik sal maak vir besproeiingsdoeleindes nie.
Mnr. Ahrens het gesê dat waterbesoedeling soos wat huidig deur die Makhado munisipaliteit in Louis Trichardt toegelaat word, hou ‘n ernstige bedreiging vir die uitvoer van landbouprodukte in die omgewing in. Meer nog, indien cholera toegelaat gaan word om verder te versprei, sal dit veroorsaak dat die Eurogap akkreditasie van boere in daardie gebiede in gedrang gaan kom. Net soos wat die uitbreek van Bek-en-Klou ‘n gebied se uitvoer potensiaal en kapasiteit in ‘n kort tyd kan vernietig, net so sal die erge waterbesoedeling en cholera die plattelandse ekonomie ernstige skade berokken.
Die sterk dreigemente en pragtige beloftes van die Nasionale Minister van Waterwese het op niks uitgeloop nie. Miskien moet ons haar vergewe aangesien sy nou so besig is met eie belang met die oog op die verkiesing. Mense se gesondheid, die platteland se ekonomie en die land se betalingsbalans is duidelik minder belangrik.
Die volgende voorstelle word gemaak om te verseker dat siektes nie tussen plase versprei nie:
ALGEMENE RIGLYNE
* Die basis van biosekuriteit is die opstel van ‘n skriftelike beskrywing van al die aksies wat geneem moet word vir die bestuur van siekteveroorsakende faktore
* Herstel heinings en hou heinings in stand
* Streng toepassing van die Plaasbesoek Protokol wat ingestel is op ordelike toegangsbeheer
* Voetbaddens vir mense wat rond beweeg maar ook baddens om bande van voertuie te ontsmet
* Installeer wasbakke sodat hande gereeld gewas kan word
* Verwyder rondloper diere, veral honde
* Plant paaltjies wat rooi geverf word om areas af te baken waar besoekers mag beweeg
* Streng toepassing van beheer oor beweging van mense en dier op plase
Mnr. Viljoen het landbouers in die Louis Trichardt gebied aangemoedig om te doen wat moontlik is. Hy het lede in die gebied geprys vir hulle betrokkenheid by die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging. Hy het lede aangemoedig om uiters streng higiëne op plase te handhaaf. Hy het gesê dat plaaslike boereverenigings en Distrik landbou-unie kantore moet aanhou om druk op plaaslike owerhede uit te oefen om riool te suiwer voordat dit in die riviere losgelaat word.